Nuus 18:00
BULLETIN 27 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof in Pretoria skort die afskakeling van analoog-TV op
# Die Konstitusionele Hof wys AfriForum se appèl-aansoek teen ‘Kill the Boer’ van die hand
# En sokker: Lesotho vra Fifa om konsekwent te bly met die hantering van ‘n Suid-Afrikaanse speler
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die sperdatum van 31 Maart vir die afskakeling van analoog-TV opgeskort, en die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, en Sentech verbied om voort te gaan. Die uitspraak volg ná ‘n regsgeding deur eMedia, die SABC en voorspraakgroepe, wat van mening is die afskakeling sal miljoene behoeftige huishoudings raak. Malatsi se regspan beweer egter eMedia beskerm sy handelsbelange. Die regering noem ‘n bedrag van 1,2-miljard-rand sedert 2014 as sy rede vir die beëindiging van analoog-TV-uitsending.
# Die Konstitusionele Hof het AfriForum se aansoek om verlof tot appèl teen twee hofbeslissings oor die dreunsang Kill the Boer van die hand gewys. Voorheen is bevind dis nie haatspraak nie. Die hoogste hof sê die appèlaansoek het geen redelike vooruitsigte op sukses nie. AfriForum het die saak teen die EFF, sy leier, Julius Malema, en die voormalige EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi aanhangig gemaak.
# President Cyril Ramaphosa het dringende optrede gevra om die voortgesette bedrog en korrupsie in die watersektor uit te wis. Hy het op die Water- en Sanitasie-indaba in Midrand, Gauteng, uitdagings genoem soos verouderde infrastruktuur, onwettige aansluitings, georganiseerde misdaad, opsetlike beskadiging, finansiële wanbestuur, swak invordering van inkomste en hoë waterverlies op munisipale vlak, en sê dit vererger die waterkrisis. Ramaphosa sê die Spesiale Ondersoekeenheid bekyk verskeie waterrade:
# SANParke het gesamentlike optredes van stapel gestuur om veiligheid te verbeter in die Leeukop-, Vlaeberg-, Pipe Track- en Die Glen-gebiede van die Tafelberg Nasionale Park. Dit volg nadat daar ‘n toename was in gewapende rooftogte. Die samewerkingspoging tussen die polisie en die Kampsbaaise stadsverbeteringsdistrik het meer patrollies en intelligensie-geleide ingrypings ingestel om misdaad hok te slaan. SANParke se woordvoerder, JP Louw, raai besoekers aan om in groepe te stap en aandstaptogte te vermy:
# Sokker: Lesotho se sokkerbeheerliggaam het die wêreldliggaam FIFA aangemoedig om konsekwent te bly in die hantering van Bafana Bafana-se middelveldspeler, Tebogo Mokoena. Sekretaris-generaal Mokhosi Mohapi glo Mokoena moes geskors gewees het tydens Suid-Afrika se oorwinning van 2-0 oor Lesotho in hulle Wêreldbeker-kwalifiseerder. FIFA se reël skryf ‘n outomatiese skorsing van een wedstryd voor na twee geel kaarte. Bafana het tans ‘n voorsprong van vyf punte bo-aan Afrika se Groep C, maar kan drie punte verloor. Mohapi het teenoor Newzroom Afrika die belangrikheid vir regverdige beslissings beklemtoon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-440-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-49-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………….