Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 27 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Chinchilla Rooftop Bar and Café in Kampsbaai, Kaapstad word deur Time Out Travel erken as een van die Top 20 dakkroeë in die wêreld. Die kroeg in Victoriaweg is sesde op die ranglys en word geprys vir sy wonderlike see- en berguitsig, en sy gemaklike sitkamer-opset. Sky Bar by Seen in Lissabon, Portugal, is boaan die lys, gevolg deur Le Perchoir in Parys met Terrasse William Gray in Montreal, Kanada, in die derde plek.
# ‘n Dosent van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Brent Swart, se nuwe muurskildery is ‘n groot treffer. Hy is gevra om dit te skep om die gratis videospeletjie PUBG Mobile se verhouding met sy spelersbasis in Afrika te vier. Swart het met vier alumni-studente saamgewerk om die kunswerk te ontwerp en te verf en dis regstreeks op TikTok uitgesaai. Die muurskildery is ‘n samevoeging van plaaslike kultuurelemente, wat daarvan ‘n boeiende kunswerk maak. Vier-duisend-500 mense het die proses dopgehou en meer as ‘n half-miljoen mense het daarvan gehou.
# Dis vandag Wêreld-teaterdag. Dit vier die mag om stories op die verhoog te vertel en kulture en stemme te verenig. Die tema is Teater en ‘n kultuur van Vrede. Die Internasionale Teaterinstituut het Wêreld-teaterdag in 1961 gestig. Dis geskep om die belangrikheid van teater as kunsvorm te bevorder, en die betekenisvolle rol te vier wat teater in kulturele uitruiling, onderwys en die samelewing speel. Dit lig ook die kunswêreld se probleme uit, wat beperkte befondsing insluit.
# Die Angel Network het 12-duisend paaseiers ingesamel om aan weerlose kinders in Johannesburg te gee. Dis daarop gemik om seker te maak die kinders kry ʼn spesiale lekkerny oor Paasnaweek. Die netwerk verwelkom Greenside Primary School se ondersteuning. Dié skool het byna drie-duisend paaseiers geskenk, en die Johannesburgse miniraad vyf-duisend. Die netwerk sal die paaseiers uitdeel aan weeskinders en kinders in gevaar om seker te maak hulle voel geliefd en versorg.
# En ten slotte: Tien inwoners van die Johannesburgse Vereniging vir Blindes is onlangs bederf met hand- en voetmasserings deur Beautiful Feet SA by Tulisapark. Die projek, wat deur die raadslid van Wyk 57, Faeeza Chame, voorgestel is, is ‘n geleentheid om vreugde en ontspanning vir visueel-gestremdes te bied. Die eienaar van Beautiful Feet SA, Melissa Castro, sê dit was ‘n groot plesier om die inwoners van die vereniging te bederf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….