Eko-minuut 13:30
BULLETIN 27 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Wetenskaplikes bestudeer twee Kaapstadse vleie, Prinses- en Elandsvlei, om klimaat-draaipunte te verstaan. Die navorsing, gelei deur die paleo-ekoloog, Jemma Finch, verken die vleie se ekologiese geskiedenis, deur die gebruik van mikro-alge en omgewings-DNS om veranderings na te spoor. Prinsesvlei se uitdagings is uitdroging en besoedeling, terwyl Elandsvlei deur stygende seevlakke bedreig word. Die bevindings sal bewaringspogings help met herstelstrategieë. Finch en ander kenners gaan vandag hulle navorsing bespreek op die Let’s get Sedimental-webinaar van Oppenheimer Generations Research and Conservation.
# Die kragvoorsieningsvermoë het in 2024 met ‘n rekord van 585 gigawatt hernubare energie toegeneem tot vier-duisend-448 gigawatt. Dit is volgens die 2025-verslag vir hernubare energie wat deur die Internasionale Hernubare Energie-agentskap vrygestel is. Die grootste toename was in Asië, en China het in 2024 met byna 64-persent die meeste tot die wêreld se vermoë bygedra. Volgens die verslag het son- en windkrag weer die meeste toegeneem en verlede jaar met 96,6-persent die grootste hernubare bydrae gelewer.
# En ten slotte: Coca-Cola-produkte sal teen 2030 verantwoordelik wees vir ‘n beraamde 602-miljoen kilogram plastiek afval wat die wêreld se oseane en waterweë elke jaar besoedel. Dit is volgens ‘n verslag van die organisasie sonder winsbejag, Oceana. Coca-Cola is die wêreld se top handelsmerk en plastiek besoedelaar, gevolg deur PepsiCo en Nestlé. Oceana het bevind indien Coca-Cola die teiken van 26,4-persent se herwinde verpakkingsmateriaal teen 2030 bereik, sal hy in staat wees om sy plastiek verbruik te begin verminder. Coca-Cola sê hy is steeds verbind tot die uitbreiding van sy hervulbare verpakkingsmoontllikhede.
Bly ingeskakel vir meer nuus………