Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: FNB is nou die hoofborg van die Springbokke met sy logo op die span se trui. Dit bou voort op ‘n vennootskap wat in 2017 begin het. FNB sal die mans-, vroue- en jeugspanne ondersteun. Uitvoerende hoof Harry Kellan sê die borgskap weerspieël die bank se verbintenis tot rugby se rol om die land te verenig en jong talent te ontwikkel. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die vennootskap sal rugby versterk.
Die Blitsbokke se hoofafrigter, Philip Snyman, en kaptein Selvyn Davids hoop intussen vir spesiale verjaarsdaggeskenke in Hongkong hierdie naweek. Snyman het gister sy 38ste verjaarsdag gevier en Davids sy 31ste, terwyl hulle voorberei vir die wêreldreeks-toernooi in die stad. Davids, wat in 2017 sy Blitsbok-debuut in Hongkong gemaak het, sê hulle wil sake regstel omdat hulle nog nooit die toernooi kon wen nie. Die Blitsbokke, wat tans vierde op die punteleer is, speel hulle groepswedstryde teen Australië, Nieu-Seeland en Uruguay.
# Krieket: Quinton de Kock se onoorwonne 97 het die verdedigende kampioen, Kolkata Knight Riders, gelei tot ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga. Die draaiboulers Moeen Ali en Varun Chakravarthy het saamgewerk om Rajasthan tot 151 vir nege te beperk. De Kock en die plaasvervanger, Angkrish Raghuvanshi, het daarna ‘n onoorwonne vennootskap van 83 lopies van 44 balle behaal en KKR het die teiken bereik met 15 balle oor. Vandag speel Sunrisers Hyderabad en Lucknow Super Giants teen mekaar.
# Gholf: Die viermalige major-kampioen, Rory McIlroy, het vroeër die week die Augusta National in Georgia besoek ter voorbereiding van die Meesterstoernooi. Dis die enigste major-titel wat hy kort om ʼn loopbaan-Grand Slam te voltooi. Die speler van Noord-Ierland en die wêreld-nommer-een, die Amerikaner Scottie Scheffler, is van die gunstelinge om die Meesters te wen wat op 10 April afslaan. McIlroy, wat hierdie week aan die Houston Ope deelneem, sê sy verkenningsreis na Augusta was om weer gewoond te raak aan die baan:
# En ten slotte, tennis: Die 19-jarige promotorskeuse, Alexandra Eala, het die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, verslaan om haar eerste WTA-halfeindronde in die Miami Ope te haal. Sy is die eerste Filippynse speler wat ʼn toervlak-halfeindronde bereik. In die mansafdeling het die Fransman Arthur Fils die Duitser Alexander Zverev verslaan en sy plek in die kwarteindronde bespreek. Die 14de-gekeurde Bulgaar, Grigor Dimitrov, het byna drie ure gespook om Francisco Cerundolo van Argentinië te klop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….