Nuus 11:00
BULLETIN 27 Mart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsprokureur kritiseer Zuma se pogings om die terugbetaling van miljoene aan regskoste te vermy
# Likwidasies het in Februarie met 1,4-persent toegeneem
# En Kanada en Japan is woedend oor Trump se invoertariewe op motors
# Die Staatsprokureur sê oudpresident Jacob Zuma se pogings om nie sy skuld van 28,9-miljoen-rand aan regskoste te betaal nie, is tydmors. Die Appèlhof het in 2021 bevind Zuma kwalifiseer nie vir befondsing deur belastingbetalers vir sy korrupsiesaak nie. News24 berig die staat voer in hofdokumente aan dat selfs indien Zuma vrygespreek word, is belastingbetalersgeld steeds onregmatig gebruik om sy privaat regskoste te dek.
# Volgens Statistieke Suid-Afrika het likwidasies in Februarie met 1,4-persent toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Likwidasies van beslote korporasies het met vier gevalle toegeneem, en likwidasies van ondernemings het in hierdie tydperk met twee gevalle afgeneem. Die syfers vir die eerste twee maande vanjaar toon ook ‘n effense afname van 0,4-persent vergeleke met vroeg verlede jaar. Onica Mushwana van Stats SA sê likwidasies het die afgelope drie maande met 12,5-persent afgeneem:
# Die GOOD-party sê die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling in Johannesburg slaag nie daarin om ekonomiese groei doeltreffend aan te vuur nie. Die party het op ‘n raadsvergadering die gebrek aan ‘n sentrale databasis vir ekonomiese aanwysers gekritiseer, omdat dit besluitneming ondermyn. Matthew Cook van die party veroordeel die afwesigheid van ‘n omvattende ekonomiese groeistrategie en voer aan Johannesburg kan nie sonder behoorlike beplanning doeltreffende ontwikkeling of werkskepping bevorder nie:
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, beskryf die Amerikaanse president, Donald Trump, se instelling van invoertariewe op motors as ‘n regstreekse aanval op sy land se werkers. ‘n Nuwe invoerbelasting van 25-persent op motorvoertuie en onderdele sal volgende week van krag word. Mexiko is die grootste uitvoerder van motors na Amerika, gevolg deur Suid-Korea, Japan, Kanada en Duitsland. Japan se eerste minister, Shegeru Ishiba, sê sy regering oorweeg toepaslike maatreëls na aanleiding van die tariewe.
# Gholf: Die viermalige major-kampioen, Rory McIlroy, het vroeër die week die Augusta National in Georgia besoek ter voorbereiding van die Meesterstoernooi. Dis die enigste major-titel wat hy kort om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi. Die speler van Noord-Ierland en die wêreld-nommer-een, die Amerikaner Scottie Scheffler, is van die gunstelinge om die Meesters te wen wat op 10 April afslaan. McIlroy, wat hierdie week aan die Houston Ope deelneem, sê sy verkenningsreis na Augusta was om weer gewoond te raak aan die baan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-385-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-31-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….