Nuus 18:00
BULLETIN 26 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid sê besteding aan gesondheid is ‘n ekonomiese belegging
# Kaapstadse motoriste vereffen meer as vier-miljoen-rand se uitstaande boetes
# En krieket: Nieu-Seeland beklink die T20-reeks teen Pakistan 4-1
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het Suid-Afrika se verbintenis tot universele gesondheidsorg deur die Nasionale Gesondheidsversekering bevestig. Motsoaledi het in KwaZulu-Natal op die tweede G20-werkgroep oor gesondheid beklemtoon gesondheidsbesteding is ‘n ekonomiese belegging. Hy versoek vernuwende befondsing, skuldverligting en wêreldwye gesondheidsvennootskappe om die gesondheidsorgstelsel te versterk en te verseker gehalte mediese dienste is toeganklik vir alle Suid-Afrikaners:
# Die polisievakbond Popcru sê hulle stem nie saam met die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se kommer oor onlangse dodelike skietvoorvalle waarby die polisie in KwaZulu-Natal betrokke was nie. Nthabeleng Molefe van Popcru vra die polisiewaghond om te verseker hulle optrede belemmer nie pro-aktiewe wetstoepassing nie en om eerder die beamptes van die nodige hulpbronne en regsondersteuning te voorsien:
# Die Stad Kaapstad se jongste verkeersboete-promosietoer het bykans drie-duisend-500 motoriste gelok, wat meer as vier-miljoen-rand se uitstaande boetes en dagvaardings betaal het. Meer as tien-duisend boetes en drie-duisend-892 dagvaardings is afgehandel, en ‘n bykomende tien-miljoen-rand se betalings-reëlings getref. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, het motoriste aangeraai om goedgekeurde kanale te gebruik vir die betaling van boetes om derdeparty-bedrog te vermy:
# Prins Harry van Brittanje het bedank uit die liefdadigheidsorganisasie in Lesotho wat hy in 2006 gestig het ter ere van sy oorlede ma, prinses Diana. Hy sê hy het Sentebale verlaat weens binnegevegte. Sy medestigter, prins Seeiso van Lesotho, het ook bedank. Dit volg nadat die trustees die voorsitter, Sophie Chandauka, gevra het om te bedank ná ‘n meningsverskil, waarna sy hulle by die Britse Liefdadigheidskommissie aangegee het. Die twee prinse sê in ‘n gesamentlike verklaring hulle glo die trustees het in die beste belang van Sentebale opgetree.
# Krieket: Nieu-Seeland het Pakistan met agt paaltjies verslaan in die laaste T20 in Wellington om die reeks 4-1 te beklink. Die besoekers het 128 vir nege aangeteken, met kaptein Salman Agha se 51 die hoogste telling. Jimmy Neesham het vyf paaltjies geneem. Tim Seifert het daarna ‘n onoorwonne 97 van net 38 balle gemoker, met tien sesse en ses viere. Die Swartpette het die teiken binne tien boulbeurte bereik met net twee paaltjies plat. Die eerste van vyf eendagwedstryde tussen die twee lande word Saterdag in Napier gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-956-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-16-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….