Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 26 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Indië het Suid-Afrika se skenking verwelkom van geskiedkundige kunswerke wat aan die maatskaplike aktivis en wêreldleier Mahatma Gandhi behoort het. Die items van beduidende geskiedkundige en kulturele waarde sal nou in Indië se Nasionale Gandhi-museum uitgestal word. Amptenare van albei lande het die skenking beskryf as ‘n huldeblyk aan Gandhi se blywende nalatenskap en toewyding tot vrede en geregtigheid. Hulle sê die gebaar sal die geskiedkundige bande tussen die twee nasies versterk nadat Gandhi meer as twee dekades in Suid-Afrika deurgebring en sy filosofie van geweldloosheid hier gevorm het.
# ROTOCON het sy derde jaarlikse wynetiketkompetisie vir studente bekendgestel in samewerking met die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Sestig voorgraadse studente van die Departement van Visuele Kommunikasie, en die Fakulteit Kuns en Ontwerp neem aan die kompetisie deel. Studente moet vernuwende, hipermoderne wynetikette ontwerp. Banie Stafford van ROTOCON sê die kompetisie toon hul belegging in jeug- en maatskaplike ontwikkeling deur kreatiwiteit te bevorder en nuwe inligting oor die bedryf en ervaring in etiket-ontwerp te deel. Die wenner word op 15 April aangekondig.
# Twee navorsers aan die Universiteit van Fort Hare, Leocadia Zhou en Shadreck Muchaku, het internasionale erkenning ontvang vir hul jongste navorsing. Hulle is naaswenners van die Beste Referaat-toekenning op die Internasionale Konferensie vir Groen- en Volhoubare Ontwikkeling in Rwanda. Hulle navorsing handel oor water- en sanitasieprobleme in die Nompumelelo-township in Beaconbaai, Oos-Londen. Zhou en Muchaku se referaat is uitgesonder vir sy buitengewone gemeenskaps-uitwerking en word beskou as een van die invloedrykste bydraes op die konferensie.
# Nedbank het ‘n helpende hand na die Universiteit van Venda se Thoho Ya Nzie-maatskaplike welsynsprojek uitgesteek met nog ‘n ruim skenking. Die bedrag is nie bekend gemaak nie. Die bank het verlede jaar 6,6-miljoen-rand geskenk om studente se uitdagings die hoof te bied, insluitend voedingsekerheid. Takalani Dzagi van die universiteit sê die projek is nou beter in staat om sy sending voort te sit deur mense op te hef. Dzaqi sê dit bewys werklike verandering vind plaas wanneer die sakesektor en gemeenskappe saamspan.
# En ten slotte: Amy Pascal en David Heyman gaan die nuwe James Bond-fliek vervaardig. Pascal is bekend vir die drie jongste Spider Man-titels terwyl Heyman al agt Harry Potter-rolprente vervaardig het. Die vorige Bond-vervaardigers, Barbara Broccoli en Michael G Wilson, het in Februarie hul uittrede uit die franchise aangekondig. Amazon MGM Studios sê hulle is opgewonde om aan wêreldwye gehore stories te vertel wat die onoortreflike nalatenskap van die geliefde karakter hoog hou. Die soektog gaan voort na ‘n akteur wat die James Bond-rol by Daniel Craig kan oorneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….