Nuus 14:00
BULLETIN 26 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Die DA sê Ramaphosa se ingryping in Johannesburg is net beeldpoetsery vir die G20
# Suid-Afrika en nege ander Afrika-lande gaan saam met Indië vloot-oefeninge doen in die Indiese Oseaan
# En motorsport: Red Bull het Liam Lawson glo uitgeskop na slegs twee Formule Een-wedrenne
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se ingryping in Johannesburg voor die G20-beraad in November is ‘n publisiteitsfoefie. Die party beskuldig Ramaphosa in ‘n ope brief daarvan dat hy probeer om wêreldleiers te beïndruk deur nou op te tree, terwyl hy vir jare diensleweringsmislukkings ignoreer het. Die party bevraagteken die wettigheid van die Johannesburgse Presidensiële Werkgroep en waarsku dat dit gebruik kan word om ANC-mag te konsolideer. Solly Msimanga van die DA vra openbare raadpleging, streng toesig en optrede teen korrupsie.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gaan ondersoek instel na alle verskaffers van verblyf wat gebrekkige inligting ingedien het om onregmatig voordeel te kan trek uit fondse vir wettige NSFAS-befondsde studente. Woordvoerder Ishmael Mnisi sê die skema het tydens die bevestigingsproses spookstudente identifiseer wat nie deur NSFAS befonds word nie en ook nie by enige openbare universiteit of kollege ingeskryf is nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, verwelkom die regering se besluit om die gepromulgeerde regulasies terug te trek wat ‘n verbod plaas op die verkoop van dagga- en hennep-produkte. Die regering het na ‘n vergadering tussen Ramaphosa en die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, ingestem tot verdere beraadslagings met belanghebbendes en openbare deelname in die formulering van nuwe regulasies, wat gesondheidsgevare en werksgeleenthede beskerm. Meyer sê die regulasies het nie sin gemaak nie:
# Indië en tien Afrika-lande, insluitend Suid-Afrika, sal volgende maand hul eerste gesamentlike vlootoefening uitvoer langs die Tanzaniese kus. Die oefening van ses dae sal behels dat Suid-Afrika, Indië, Tanzanië, die Comores, Djiboeti, Eritreë, Kenia, Madagaskar, Mauritius, Mosambiek en die Seychelle fokus op maritieme veiligheid, pogings teen seerowery en reddingsoperasies. Hulle sal deelneem aan verskillende oefeninge soos soek en beslaglegging, helikopter en toesig. Indië se patrollievaartuig, INS Sunayna, sal ook gesamentlike patrollies uitvoer, wat die sekerheidsamewerking in die Indiese Oseaan versterk.
# Motorsport: Red Bull het volgens berigte die Nieu-Seelandse renjaer Liam Lawson afgedank na net twee wedrenne in die nuwe seisoen, en sal hom vervang met die plaaslike bestuurder Yuki Tsunoda vir volgende maand se derde wedren in Suzuka, Japan. Dit volg na ‘n vergadering tussen spanhoof Christian Horner en raadgewer Helmut Marko, wat hulle vertroue in Lawson gestel het om die Mexikaan Sergio Perez op te volg. Lawson moes in die eerste wedren in Melbourne, Australië, onttrek na ‘n botsing en het die afgelope naweek in Shanghai, China, met die stadigste tyd gekwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-102-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-20-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….