Ekominuut 13:30
BULLETIN 26 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# CapeNature sê veldbrande het van Oktober 2024 tot aan die einde van Februarie vanjaar altesaam 32-duisend-187 hektaar in die Wes-Kaap vernietig. Die Swartberg-beskermde gebied verteenwoordig sowat die helfte van die gebrande areas en is die swaarste getref. Die instelling het sedert Oktober meer as 12-miljoen-rand bestee aan die bestryding en voorkoming van brande. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê CapeNature werk aan langtermynstrategieë om brandbestuur te verbeter, insluitend die vermindering van brandbare materiaal.
# Ryk lande skuld Afrika volgens berigte miljarde rand in klimaatskuld vir die oorskryding van sy koolstofbegroting. Volgens ‘n verslag van Action Aid ervaar Afrika ernstige klimaatsuitwerking, hoewel hy baie min tot wêreldbesoedeling bydra en fondse benodig vir verstedeliking en aanpassing. Die meeste klimaatfinansiering word teen hoë rentekoerse verskaf, wat sy skuldkrisis vererger. Terwyl Suid-Afrika vanjaar die G20 lei, is kenners van mening daar is ‘n geleentheid om billike skuldterugbetalings te eis, en makliker toegang tot fondse en beleggings in ‘n veerkragtige infrastruktuur te verkry om ‘n volhoubare toekoms vir Afrika te verseker.
# En ten slotte: Die Wêreldgesondheidsorganisasie vra dringende optrede op ‘n wêreldwye skaal om lugbesoedeling te takel wat hy sê die grootste omgewingsgesondheidsrisiko is. Data toon 99-persent van die wêreldbevolking asem lug in wat laer is as die WGO se standaard en dit bevat hoë vlakke van besoedeling. Lae- en middel-inkomstelande word die meeste blootgestel. Lugbesoedeling veroorsaak jaarliks sowat sewe-miljoen sterftes aan chroniese asemhalingsiektes en longkanker. Die WGO sê beleid om lugbesoedeling te bekamp, bied ‘n wenstrategie vir die klimaat én gesondheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….