Nuus 12:00
BULLETIN 26 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB voorspel ‘n aansienlike toename in werksgeleenthede in die langtermyn
# Die DA dring aan op ‘n omvattende ondersoek na verwoestende veldbrande wat deur brandstiging veroorsaak word
# En die Vrystaat veg teen ‘n plaag Afrika-kommandowurms
# FNB voorspel ‘n aansienlike toename in werksgeleenthede te midde van geleidelike verbeterings in die bedryfsomgewing. Die totale aantal werkende mense in Suid-Afrika het van Desember 2023 tot Desember verlede jaar met 91-duisend gedaal. Volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingstatistiek het voltydse werksgeleenthede met 26-duisend afgeneem en deeltydse werksgeleenthede met 65-duisend. FNB se senior ekonoom, Koketso Mano, beklemtoon belegging in infrastruktuur om langtermyn-indiensneming te bevorder:
# Die DA vra ‘n omvattende ondersoek na die vermeende brandstigting-verwante bosbrande in die Wes-Kaap. Op ‘n parlementêre vraag is onthul dat 68 van die meer as elf-duisend veldbrande wat in die provinsie aangemeld is, as brandstigting ondersoek word – 97-persent daarvan in Kaapstad. Die party dring daarop aan dat die polisie die skuldiges moet vastrek. Dave Bryant van die DA sê brandstigting stel lewens in gevaar, benadeel die omgewing en vermors belangrike hulpbronne:
# Die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake in die Vrystaat het ‘n uitbreking van Afrika-kommandowurms bevestig. Een-en-dertig gevalle is in verskeie gebiede aangemeld, insluitend in Jacobsdal, Luckhoff en Petrusburg. Die besmetting is besig om na Boshof te versprei en bedreig mielie- en sorghum-oeste. Boere word aangeraai om hul vee te verskuif en veeartse te raadpleeg. Die departement se woordvoerder, Moliehi Moeng, sê opleidingsgeleenthede word vandag in Petrusburg en Jacobsdal aangebied vir boere oor hoe om plaagdoders te gebruik:
# Krieket: Die Suid-Afrikaner Allahuddien Paleker en Alex Wharf van Engeland is ingesluit op die Internasionale Krieketraad se elite-paneel skeidsregters vir 2025-’26. Paleker, wat die sewende Suid-Afrikaanse skeidsregter op die paneel is, het in vier toetse as veld-skeidsregter opgetree. In mans-krieket het hy 23 eendagwedstryde en 67 T20’s waargeneem, en was ook skeidsregter in 17 internasionale vroue-wedstryde. Paleker sê hy is trots om op die elite-paneel te dien, maar dis ook ʼn groot verantwoordelikheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-143-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreld se langsdienende terdoodveroordeelde, die voormalige Japanse beroepsbokser Iwao Hakamata, gaan rekord-vergoeding van 26-miljoen-rand ontvang. Die 89-jarige was langer as 40 jaar in die dodesel.. Hy is in 1968 ter dood veroordeel vir die moord op vier mense, maar nuwe getuienis het daartoe gelei dat hy in 2014 vrygelaat is hangende ‘n herverhoor, wat hom verlede jaar vrygespreek het. Die vergoeding is die meeste ooit vir ‘n onregmatige veroordeling in Japan. Hakamata se regspan sê egter dit kan nooit vergoed vir sy lyding nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….