Nuus 09:00
BULLETIN 26 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die regering van nasionale eenheid moet geraadpleeg word oor Ebrahim Rasool se vervanging
# Die Parlement is bekommerd oor die moontlike sluiting van ArcelorMittal se bedrywighede
# En ‘n groot dwelmoperasie word in die wiele gery tydens ‘n interprovinsiale operasie
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa beroep hom op die bepalings van die Grondwet in ‘n poging om ‘n nuwe ambassadeur na Amerika aan te stel en draai sy rug op die gees van samewerking in die regering van nasionale eenheid. Die president het gesê dit is nie nodig om met vennote in die regering te raadpleeg oor Ebrahim Rasool se plaasvervanger nie. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê Ramaphosa is vry om aan te stel wie hy wil binne die ooreengekome raamwerk van die regering van nasionale eenheid:
# Die parlementêre portefeuljekomitee vir Handel, Nywerheid en Mededinging sê hy is bekommerd oor die sluiting van ArcelorMittal Suid-Afrika se langstaal-onderneming. Die komitee het ‘n geslote vergadering met die staalmaker se bestuur gehad. Die maatskappy wil sy langstaalbedrywighede in Newcastle en Vereeniging sluit omdat dit ʼn verlies toon, maar die regering hoop om hierdie week ʼn ooreenkoms te sluit wat drie-duisend-500 werksgeleenthede sal red. Die komitee sê die behoud van plaaslike staalproduksievermoë is noodsaaklik om die ekonomie teen wêreldwye voorsieningsprobleme te beskerm.
# ‘n Gekoördineerde operasie waarby die polisie in die Vrystaat, die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap betrokke was, het gelei tot die beslaglegging op tik ter waarde van 50-miljoen-rand en die arrestasie van ‘n 35-jarige man. Lede van Aliwal-Noord Speur- en Misdaadintelligensie het inligting ontvang van ‘n vragmotor wat van Smithfield na Aliwal-Noord onderweg was en dwelms vervoer het. ‘n Polisiewoordvoerder, Loraine Earle, sê die voertuig is onderskep en deeglik deursoek:
# Die ANC verwelkom oudpresident Kgalema Motlanthe se aanstelling op die paneel wat vredesonderhandelings in die Demokratiese Republiek die Kongo fasiliteer. Die paneel sluit oudpresidente Olusegun Obasanjo van Nigerië, Uhuru Kenyatta van Kenia, Catherine Samba Panza van die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Sahle-Work Zewde van Ethiopië in. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê hulle moedig alle partye wat by die konflik betrokke is, aan om hulle tot ʼn volhoubare skietstilstand en onderhandelde skikking te verbind wat vrede en stabiliteit vooropstel:
# Tennis: Die sesmalige kampioen Novak Djokovic is vir die agtste keer deur na die kwarteindronde van die Miami Ope. Die Serwiër het die Italianer Lorenzo Musetti verslaan en kom nou teen die Amerikaner Sebastian Korda te staan. Korda het die Fransman Gael Monfils uitgeskakel. Die Italianer Matteo Berrettini en die Amerikaner Taylor Fritz is ook deur na die laaste agt. In die trekking vir vroue het die Italianer Jasmine Paolini die Pool Magda Linette verslaan om ‘n halfeindstryd met die wêreld se nommer een Aryna Sabalenka van Belarus te bewerkstellig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-248-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-16-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….