Nuus 07:00
BULLETIN 26 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika moet meer selfstandig word
# Cosatu wil hê die voorgestelde BTW-verhoging in die begroting moet geskrap word
# En Oekraïne en Rusland stem in tot ‘n skietstilstand in die Swartsee
# President Cyril Ramaphosa sê die besluit van president Donald Trump se administrasie om USAID-fondse aan die buiteland te staak, is ‘n wekroep vir Suid-Afrika om selfvoorsienend te raak. Die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting is een van dié wat deur die besnoeiings geraak word. Dit het talle programme ondersteun wat fokus op voorkoming, berading en monitering, en het 17-persent van Suid-Afrika se totale MIV-reaksie beloop. Ramaphosa sê die land moet op sy eie hulpbronne staatmaak, selfs te midde van fiskale beperkinge en uitdagings:
UNAIDS waarsku intussen die besnoeiings in Amerikaanse buitelandse hulp kan ‘n drastiese toename in vigsverwante sterftes en besmettings veroorsaak en 25 jaar se vooruitgang tot niet maak. UNAIDS se hoof, Winnie Byanyima, dring aan dat die hulp onmiddellik herstel moet word en waarsku oor ‘n moontlike 6,3-miljoen bykomende sterftes en 8,7-miljoen nuwe besmettings binne vier jaar. Sy sê die besnoeiings bedreig lae-inkomstelande in Afrika, Oos-Europa en Latyns-Amerika en MIV/Vigs kan weer die krisisvlakke van die 90’s en 2000’s bereik.
# Die vakverbond Cosatu vra die Parlement om sy wetgewende gesag uit te oefen en die 2025/2026-begroting te wysig om die BTW-verhoging te skrap. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het vroeër die maand in sy begrotingsrede ʼn 0,5-persentasiepunt BTW-verhoging in 2025/2026 en nog een in 2026/2027 voorgestel. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks het gister die vakverbond se voorlegging by die Parlement ingedien en beklemtoon hulle kan nie belastingverhogings vir die werkersklas goedkeur nie:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, en die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sal na verwagting vandag die gedenkdiens bywoon van die ses gemeenskapspatrolleerders wat in die Marry Me informele nedersetting in Soshanguve dood is. Ongeïdentifiseerde mans het die patrollielede Saterdag in die vroeë oggendure aangeval. Lesufi en Moya sal ná die gedenkdiens ‘n gemeenskapsimbizo aanbied om te beklemtoon dat die regering verbind is tot die verbetering van veiligheid en diensleweringskwessies. Die geleentheid beklemtoon ook die provinsiale fokus op die bekamping van misdaad en die verbetering van gemeenskapsveiligheid.
# Die Withuis sê Rusland en Oekraïne het ingestem tot ʼn skietstilstand in die Swartsee wat veilige handelsvaarte sal verseker. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê die ooreenkoms is ʼn stap in die regte rigting, maar enige beweging deur die Russiese vloot sal die ooreenkoms verbreek. Rusland sê intussen sekere sanksies op banke, versekeraars en voedseluitvoerders moet opgehef word voordat die skietstilstand van krag word. Die Withuis sê Amerika sal voortgaan om onderhandelinge tussen die twee lande te fasiliteer om blywende vrede te bereik.
# Perdewedrenne: Renperde gaan in die toekoms in Brittanje getoets word vir gene-opkikkers as deel van ‘n teen-opkikkerprogram. Die Britse Perdewedren-owerheid het die aankondiging gedoen nadat hy byna 50-miljoen-rand belê het in omvattende navorsing oor opsporingsmetodes. Die liggaam sê daar is geen bewyse van gene-opkikkergebruik in die sport nie, maar hy wil waak teen toekomstige korrupsie-gevare. BBC Sport berig gene-opkikkers sluit die gebruik van genetiese of sel-manipulering van DNS in om atletiese prestasie te verbeter of herstel na oefening te versnel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-743-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-18-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….