Nuus 06:00
BULLETIN 26 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê dit is onnodig om die regering van nasionale eenheid te raadpleeg oor Ebrahim Rasool se vervanging
# President Trump benoem Leo Brent Bozell die Derde as ambassadeur in Suid-Afrika
# En sewe joernaliste is in aanhouding omdat hulle die betogings in Turkye dek
# President Cyril Ramaphosa sê hy het nie insette van sy regering van nasionale eenheid nodig om die land se volgende ambassadeur in die VSA aan te stel nie. Dit volg op die uitsetting van die voormalige ambassadeur Ebrahim Rasool oor sy kommentaar oor president Donald Trump se regering. Die DA se federale raadsvoorsitter, Helen Zille het gevra vir konsultasie oor Rasool se vervanging. Ramaphosa sê die aanstelling van die nuwe ambassadeur bly sy uitsluitlike verantwoordelikheid:
President Donald Trump het intussen die konserwatiewe aktivis, skrywer en mediakommentator, Leo Brent Bozell die Derde, as ambassadeur in Suid-Afrika benoem. Hy het die Media Research Centre gestig, ‘n konserwatiewe waghondgroep wat kritiek lewer op skynbare liberale vooroordeel in die hoofstroommedia. Dit kom te midde van gespanne bande tussen die twee lande. Trump is gekant teen Suid-Afrika se onteieningsbeleid, en sy volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof. Die Senaat moet nog Bozell se aanstelling bevestig.
# Die DA sê die omskakeling van die maatskaplikeverligting-noodtoelaag na ‘n toelaag vir werksoekers asook die hervorming van kollektiewe bedinging, is deurslaggewende stappe in die bevordering van werkskepping. Die jongste kwartaallikse indiensnemingsyfers toon daar is 91-duisend minder werksgeleenthede en die party bepleit dringende pro-groei-hervormings, insluitend die ontbondeling van die energiemark, die ondersteuning van klein ondernemings en die verbetering van logistiek. Michael Bagraim van die DA glo hierdie veranderings sal help om die werkloosheidsyfer, wat tans byna 42-persent is, te verminder.
# Die Portefeuljekomitee oor Polisie het teleurstelling uitgespreek oor die Oos-Kaapse polisie se benadering teenoor die bekamping van afpersing. Tydens ‘n toesigbesoek aan Mthatha het komiteevoorsitter Ian Cameron gesê dat aangemelde sake formeel opgevolg sal word om aanspreeklikheid te verseker. Hy sê die komitee is steeds bekommerd oor die doeltreffendheid van die polisie se strategieë om die groeiende afpersingskrisis wat besighede en inwoners in die streek raak, aan te spreek:
# ‘n Turkse hof het beslis dat sewe joernaliste in aanhouding bly oor die dekking van massabetogings wat losgebars het na die inhegtenisneming van president Recep Tayyip Erdogan se vernaamste politieke teenstander. Meer as een-duisend-400 mense word nou aangehou. Die organisasie Verslaggewers sonder Grense bestempel die stap as ‘n skande. Reuse-skares vaar daagliks die strate in na verlede week se optrede teen Istanbul se gewilde opposisie-burgemeester, Ekrem Imamoglu, terwyl nagtelike botsings met die onluste-polisie landwyd versprei het.
# Krieket: Die ikoniese Gabba-stadion in Brisbane gaan gesloop word na 2032 se Olimpiese Spele in die Australiese stad. Dit is aangekondig as deel van die planne vir die byeenkoms, wat die oprigting van drie nuwe stadions in die middestad insluit. Die hoofstadion wat die atletiek-program en die opening- en sluitingseremonie sal aanbied, sal daarna die Gabba vervang. Queensland se premier, David Crisafulli, sê die verouderende Gabba was ‘n wonderlike spilpunt vir krieket sedert dit in 1895 geopen is, maar staar tans talle uitdagings in die gesig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-420-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-20-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….