Nuus 17:00
BULLETIN 25 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man van Noordwes word tot 25 jaar gevonnis vir die moord op sy vrou en stiefdogter
# Binnelandse Sake tree op teen misbruik wat staatskaping vergemaklik het
# En sokker: Bafana kry nie kans om te oefen op die veld vir vandag se Wêreldbeker-kwalifiseerder nie
# Die Hooggeregshof in Pretoria het Paul Prinsloo tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou, Magdalena, en sy stiefdogter, Ruzanne. Hulle is op 27 November 2023 op Kosmos in Hartbeespoort, Noordwes, vermoor ná ‘n hewige rusie. Die 63-jarige Prinsloo het skuld beken op moord, maar die staat het bewys dit was met voorbedagte rad. Die hof het nogtans afgewyk van ‘n lewenslange vonnis weens sy ouderdom, swak gesondheid en berou. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom en sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgeweld beklemtoon.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê verdere stappe is in werking gestel om misbruike teen te werk wat staatskaping vergemaklik het. Dit volg op die kansellasie van die onreëlmatige toekenning van Suid-Afrikaanse burgerskap aan ‘n senior Gupta-familielid ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid. Die minister sê sy departement sal sorg vir besliste optrede teen immigrasie-korrupsie, met die doel om integriteit in Binnelandse Sake en die Grensbestuursowerheid te herstel:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het die Nasionale Tesourie se voorstelle verwerp om BTW te verhoog en persoonlike inkomstebelastingskale onveranderd te laat, en dit beskryf as onregverdig teenoor ‘n reeds oorlaaide belastingbetalersbasis. Die organisasie voer aan dat hierdie verhogings plaasvind terwyl miljarde rand verlore gaan weens korrupsie, ondoeltreffendheid en vermorsing. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die verkoop van nie-noodsaaklike ondernemings in staatsbesit sal inkomste inbring, verantwoordelikhede verminder en die regering se doeltreffendheid verbeter:
# Sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter Hugo Broos, is woedend omdat sy span nie toegelaat is om te oefen op die stadion in die Ivoorkus waar hulle Benin vandag pak in ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder nie. Gister se wedstryd tussen Ivoorkus en Gambië het verhoed dat Suid-Afrika en Benin op die veld kon oefen. Bafana loop tans voor in die kwalifiseringsgroep met Benin tweede. Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê dis nou die halfpadmerk en na vanaand sal hulle ‘n duideliker prentjie hê van wat hulle nog moet bereik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-683-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-22-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-83-sent per vat.
# En laastens, ‘n blou en wit spiraal in die lug bokant Frankryk en Brittanje is waarskynlik deur ‘n SpaceX-vuurpyl veroorsaak. Dit is volgens weervoorspellers in albei lande. Brittanje se weerkantoor sê hy het gisteraand baie berigte ontvang van ‘n verligte draaikolk in die hemelruim, wat waarskynlik veroorsaak is deur ‘n Falcon 9-vuurpyl wat vroeër van Kaap Canaveral in Florida gelanseer is. Volgens SpaceX was dit ‘n suksesvolle geklassifiseerde sending vir die Amerikaanse Nasionale Verkenningskantoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….