Nuus 15:00
BULLETIN 25 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Een verdagte in die Soshanguve-massaskietery is in hegtenis geneem en die dodetal styg tot ses
# Ramaphosa vra ‘n sterker rol vir verpleging in die Nasionale Gesondheidsorgstelsel
# En algehele indiensneming in Suid-Afrika het in 2024 met 91-duisend afgeneem
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bevestig een verdagte is in hegtenis geneem ná Saterdag se massaskietery tussen plaaslike patrolleerders en vyf ongeïdentifiseerde mans in Soshanguve, Pretoria. Vier mense is op die toneel dood en agt gewond. Die dodetal het intussen tot ses gestyg nadat twee mense in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Ses ander is steeds in die hospitaal. Mchunu het inwoners toegespreek en bevestig die owerhede gaan voort met die soektog:
# President Cyril Ramaphosa moedig die verpleegvakbond Denosa aan om ‘n leidende rol te speel in die bevordering van verpleegkundiges in die Nasionale Gesondheidsversekering. Hy het op Denosa se negende nasionale kongres in Boksburg beklemtoon dat verpleegkundiges noodsaaklik is vir die sukses van die program en die gesondheidstelsel. Ramaphosa het die vakbond aangemoedig om te verseker dat verpleegkundiges goed opgelei is en ondersteun word te midde van nasionale tekorte en stygende werwing vanuit die buiteland:
# Die algehele aantal werkende mense in Suid-Afrika het van Desember 2023 tot Desember verlede jaar met 91-duisend afgeneem. Volgens die kwartaallikse indiensnemingstatistieke wat Statistieke SA gepubliseer het, het voltydse indiensneming met 26-duisend afgeneem en deeltydse indiensneming met 65-duisend. Die direkteur van kwartaallikse indiensnemingstatistieke, Matlapane Masupye, sê die nuus vir die vierde kwartaal van verlede jaar was effens beter:
# Rugby: MTN Suid-Afrika het sy borgskaps-ooreenkoms met SA Rugby na agt jaar beëindig. Onder die borgskap het die Springbokke die Wêreldbeker in 2019 en 2023 gewen. MTN SA se uitvoerende hoof, Charles Molapisi, sê die borgskap wou hervorming herdefinieer deur rugby aan die mense terug te gee en ubuntu te bevorder. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê MTN het nie net die pogings ondersteun om wedstryde te wen en vreugde aan die land te bring nie, maar ook Suid-Afrika se verskeidenheid vertoon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-289-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-69-sent per vat.
# En laastens, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se fakulteit Inligting- en Kommunikasie-tegnologie het met die Landbousektor se Onderwys- en Opleidingsowerheid saamgespan om ‘n vernuwende tegnologie-vaardigheidsontwikkelingsprogram van stapel te stuur. Die program, ter waarde van 12,4-miljoen-rand, gaan ‘n hommeltuig-opleidingskursus van ‘n jaar bekendstel wat bedoel is om jongmense met noodsaaklike vaardighede toe te rus vir ‘n snel-ontwikkelende landboubedryf. TUT sê die program, die enigste van sy soort in die land, sal voorsien in die toenemende vraag vir tegnologie-gedrewe oplossings in landbou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….