Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 25 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit Stellenbosch het die internasionaal-bekende Suid-Afrikaanse musikant, komponis en liedjieskrywer, Jonathan Butler, met ‘n eredoktorsgraad vereer. Hy word erken vir sy musikale invloed en bydrae tot kuns en kultuur, asook sy toewyding om platforms te skep wat minderbevoorregte jongmense toegang tot die kunste gee. Butler het in sy aanvaardingstoespraak gesê dis ‘n droom wat waar word en beter is as enige iets wat hy kon vra, dink of hom verbeel:
Die Universiteit van die Witwatersrand gaan intussen eredoktorsgrade toeken aan drie uitnemende persone ter erkenning van hul buitengewone bydraes tot onderwys, ekonomiese navorsing en regte. Die ontvangers is die stigtersdirekteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Afstandsonderwys, Jennifer Glennie, die Afrika-ekonoom, professor Ernest Aryeetey, en die regsfilosoof en skrywer, professor David Dyzenhaus. Wits se visekanselier, professor Zeblon Vilakazi, sê die drie merkwaardige mense het blywende bydraes tot hul onderskeie velde gelewer, en kennis, navorsing en beleid bevorder wat die samelewing in die algemeen bevoordeel.
# Die ikoniese Suid-Afrikaanse sangeres, Yvonne Chaka Chaka, het haar 60ste verjaarsdag gevier deur saam met Shoprite Sixty60 voedselitems aan bejaarde inwoners van Soweto te oorhandig. Die sakke met noodsaaklike kosvoorrade was ʼn geskenk aan bejaardes wat ʼn integrale deel van Soweto se geskiedenis is. Chaka Chaka het aan Newzroom Afrika gesê die vieringe gaan voort met ʼn konsert met spesiale gaste op 6 April:
# Die Department van Militêre Veterane sal hierdie week sewe publikasies by Vryheidspark in Pretoria bekendstel wat die ervarings van veterane in die bevrydingstryd beskryf. Dit is deel van die Militêre Veterane se Mondelinge Geskiedenisprojek, wat beoog om waardigheid te herstel, bydraes te eer, en die rol van veterane in Suid-Afrika se demokrasie te bevestig. Die veterane se invloed op die nasie se demokratiese reis sal tydens die geleentheid bespreek word. Adjunkminister Richard Mkhungo sal die geleentheid lei en die belangrikheid van die bewaring van geskiedenis beklemtoon.
# En ten slotte: Naperville in Illinois is op Niche se 2025-verslag die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die beste stad in Amerika om in te bly. Die lys word opgestel volgens ʼn wye verskeidenheid openbare inligtingsbronne soos verbruikersmenings en openbare rekords. Volgens die verslag is Naperville boaan die lys danksy faktore soos die beste plek om kinders groot te maak, huis te koop en werk te kry. Tweede op die lys is The Woodlands in Texas, gevolg deur Cambridge in Massachusetts.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….