Nuus 13:00
BULLETIN 25 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG is vol vertroue dat hulle gereed is vir die gewese ANC-woordvoerder Pule Mabe se korrupsieverhoor
# Sokker: Blatter en Platini keer terug hof toe in ‘n korrupsie-verhoor
# En Jonathan Butler ontvang ‘n ere-doktorsgraad van Maties
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy glo die tender-korrupsiesaak van 27-miljoen-rand teen die voormalige ANC-woordvoerder Pule Mabe is gereed vir die hof. Mabe en ses medebeskuldigdes het vandag in die Palm Ridge Landdroshof in Gauteng verskyn op 16 aanklagte, insluitend bedrog en geldwassery. Die aanklagte spruit uit ‘n kontrak vir 200 voertuie vir afvalbestuur in 2017. Die NVG se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, is vol vertroue dat die ondersoek deeglik gedoen is:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra die Parlement om ‘n wetsontwerp te aanvaar waarvolgens rassewette afgeskaf word, of die apartheid-era se Wet op Bevolkingsregistrasie weer in te stel. Hy het reeds begin steun werf onder parlementslede en ‘n openbare versoekskrif van stapel gestuur ter ondersteuning van die wetsontwerp. Hermann Pretorius van die instituut voer aan dat rasgebaseerde wette steeds voortbestaan ondanks die herroeping van die wet in 1991, wat onsekerheid en diskriminasie veroorsaak. Hy meen die Parlement moet besluit of hy rasseklassifikasie wil toelaat of gelykheid wil voorstaan.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, in vennootskap met die Nelson Mandela-kinderfonds, sal die Afrika Kinderberaad van 4 tot 7 April in Johannesburg aanbied. Die geleentheid sal een-duisend-300 kinders van regoor Afrika bymekaarbring, met 300 wat persoonlik daar sal wees terwyl een-duisend virtueel gaan deelneem. Die departement se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê die beraad sal fokus op kinderregte, geslagsgeweld en inklusiewe verteenwoordiging vir minderbevoorregte groepe:
# Sokker: Die gewese president van die wêreldbeheerliggaam Fifa, Sepp Blatter, en die bekende voormalige Franse speler Michel Platini staan van vandag in Switserland tereg in ‘n korrupsie-saak. Die 89-jarige Blatter word daarvan aangekla dat hy in 2011 41-miljoen-rand uit Fifa se geldkoffers aan die 69-jarige Platini betaal het as ‘n raadplegingsfooi. ‘n Laer hof het hulle in 2022 onskuldig bevind, maar ‘n appèlaansoek het gelei het tot die nuwe verhoor. Fifa het albei in 2015 geskors, wat Platini se droom beëindig het om Blatter op te volg as president.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-696-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-21-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-77-sent per vat.
# En laastens, die Universiteit Stellenbosch het die internasionaal-bekende Suid-Afrikaanse musikant, komponis en liedjieskrywer, Jonathan Butler, met ‘n eredoktorsgraad vereer. Hy word erken vir sy musikale invloed en bydrae tot kuns en kultuur, asook sy toewyding om platforms te skep wat minderbevoorregte jongmense toegang tot die kunste gee. Butler het in sy aanvaardingstoespraak gesê dis ʼn droom wat waar word en beter is as enige iets wat hy kon vra, dink of hom verbeel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….