Nuus 11:00
BULLETIN 25 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma wil hê die aanklagte teen hom moet laat vaar word
# Die Chinese elektriese motorvervaardiger BYD klop sy mededinger Tesla
# En rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux gaan ‘n maand lank op die kantlyn wees na ‘n skoueroperasie
# Oudpresident Jacob Zuma beskuldig die staat van vertragings met sy wapentransaksieverhoor, nie sy eie Stalingrad-vevolgingstrategie nie. Hy staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie, afpersing en bedrog. Zuma wil aansluit by die aansoek van sy medebeskuldigde, die Franse wapenmaatskappy Thales, wat vra alle aanklagte moet laat vaar word weens onredelike vertragings. Zuma sê as dit die staat se bedoeling was om gevolg te gee aan sy reg op ‘n spoedige verhoor, moes hy ‘n ander aanklaer aangestel het eerder as om op Billy Downer aan te dring.
# ActionSA sê hy het die ANC-taakspan wat vir die aanvaardig van 2025/’26 se begroting onderhandel, laat weet hulle sal nie die begroting aanvaar nie. Die party sê sy belangrikste oorweging is dat die regering nie die voorgestelde begroting met ander partye onderhandel het nie. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die voorgestelde verhogings in BTW en inkomstebelasting is nie aanvaarbaar nie omdat die regering nie sy eie wanbesteding en ondoeltreffendheid bekamp nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek oor die regering se onlangse onthulling dat belastingbetalers 65-miljoen-rand aan eiendomsbelasting van leë staatsgeboue betaal het. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naiker, sê daar was in Januarie een-duisend-259 leë erwe in staatsbesit, 207 leë huise en 830 verlate plase wat nie vir gebruik toegeken is nie. Hy sê die regering verloor ‘n geraamde 83-miljoen-rand aan inkomste omdat dit nie verhuur word nie:
# Die Chinese motorvervaardiger BYD het verlede jaar ‘n toename in inkomste gesien wat sy mededinger, Tesla, oortref het terwyl die elektriese voertuigvervaardiger oorsee uitbrei. BYD het onlangs na vore getree as die leier in China se hoogs-mededingende elektriese voertuigmark, wat die grootste ter wêreld is. Die maatskappy soek ook nuwe buitelandse groeigeleenthede, en beloof om die Europese markte te verower met ‘n nuwe kompakte elektriese model en supervinnige-laaivermoë. Tesla se verkope in Europa het gedaal ná uitvoerende hoof Elon Musk se steun aan ver-regse politieke groepe op die vasteland.
# Rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux se skouer is geopereer en hy sal na verwagting ʼn maand lank buite aksie wees. Dis ʼn groot slag vir die Bulle se afrigter, Jake White, wat reeds bekommerd is dat die voorspelers Cameron Hanekom en Johan Grobbelaar nie Saterdag beskikbaar sal wees vir hul Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Zebre in Pretoria nie. Grobbelaar sukkel met ʼn skouerbesering terwyl Hanekom ‘n stamp gekry het in die oorwinning oor Leinster. Die Bulle is tans derde op die VRK-punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-779-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-16-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….