Nuus 07:00
BULLETIN 25 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering werk daaraan om die Amerikaanse befondsingsgaping te oorbrug
# Die Vereniging van Staatsamptenare wil hê Nersa moet Eskom se tariefverhoging heroorweeg
# En Donald Trump stel ‘n tarief in teen lande wat olie of gas van Venezuela invoer
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê daar is ‘n dringende behoefte aan gebeurlikheidsplanne en ʼn veerkragtige gesondheidstelsel wat skokke van buite kan weerstaan. Suid-Afrika is een van die lande wat geraak word deur Amerika se staking van sy presidensiële noodplan vir vigsverligting. PEPFAR-fondse het 17-persent uitgemaak van die land se totale MIV-befondsing. Mashatile sê die regering werk aan gebeurlikheidsplanne om die gaping te vul wat deur die onttrekking van Amerikaanse buitelandse hulp gelaat is:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika moet sy besluit om Eskom se tariefverhoging toe te staan, heroorweeg. Die reguleerder het ʼn tariefverhoging van 12-persent vir die 2025/2026-boekjaar goedgekeur wat op 1 April van krag word. Dan volg ʼn 11-persent verhoging vir die 2026/2027-boekjaar, en ʼn 9,1-persent styging vir 2027/2028. Die vereniging glo die goedkeuring van so ʼn aansienlike verhoging is onregverdigbaar in die lig van voortslepende wanbestuur en korrupsie by Eskom.
# Die Automobiel-Assosiasie het die Gautrein-uitbreiding as ‘n foutiewe besluit afgemaak, omdat daar ‘n vyf-miljoen afname in passasiers oor die laaste vier jaar was. Ten spyte van finansiële uitdagings, beplan owerhede ‘n 120-mijard-rand uitbreiding, en beweer dit sal 125-duisend werkgeleenthede skep. Eleanor Mavimbela van die AA voer aan dat die fondse eerder gebruik moet word om paaie, taxi’s en busse te verbeter wat meer mense sal bevoordeel. Hulle waarsku dat die Gautrein steeds ‘n elitistiese diens bly, en vra dat die regering moet belê in inklusiewe vervoeroplossings wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, verwelkom planne deur die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om befondsing vanaf die privaat sektor te kry vir die spoor- en hawesektore. Winde sê die skuif is deurslaggewend vir ekonomiese groei, aangesien die Kaapstadse hawe en streekspoordeurgange dringend verbeter moet word. Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, ondersteun die projek en beklemtoon die potensiaal daarvan om werk te skep en doeltreffendheid te verbeter. Die stad eis vinnige optrede om betyds te wees vir die Augustus-sperdatum vir verkryging.
# President Donald Trump van Amerika sê dié land sal ʼn tarief van 25-persent instel op alle invoere vanuit lande wat olie of gas by Venezuela koop. Hy beweer dié land het doelbewus en op bedrieglike wyse misdadigers, insluitend geweldenaars en bendelede, na Amerika gestuur. Meer as 250 vermeende bendelede, hoofsaaklik Venezolane, is verlede week na El Salvador gedeporteer. Venezuela was verlede jaar een van die grootste buitelandse olie-verskaffers aan Amerika. Trump sê Venezuela is baie vyandig teenoor Amerika en die vryhede waarvoor hy staan.
# Rugby: Die ervare Blitsbokspeler Siviwe Soyizwapi sê hulle is goed op pad om hulle droom te verwesenlik om onder die eerste vier spanne te eindig in elke toernooi in die huidige sewes-wêreldreeks. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer na Argentinië, Spanje en Fidji nadat hulle in Kaapstad gewen het en tweede was in Vancouver. Soyizwapi sê hulle is goed voorbereid vir die naweek se toernooi in Hongkong en vasberade om te wen. Hy sê hulle het aanspraakmakers geword in elke toernooi waarin hulle speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-287-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-13-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….