Nuus 06:00
BULLETIN 25 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zane Dangor beklemtoon die belangrikheid van die G20-presidentskap
# SASSA verwelkom die arrestasie van ‘n elfde bedrogverdagte
# En motorsport: Ferrari aanvaar die diskwalifisering van beide sy jaers by die Chinese Grand Prix
# Suid-Afrika se G20-sjerpa, en direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê die land se G20-presidentskap kom op ‘n deurslaggewende tyd, aangesien die wêreld ‘n globale polikrisis in die gesig staar. Die tema vir die komende G20-vergadering is Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid. Dangor het aan die Verenigde Nasies in New York gesê Suid-Afrika het ‘n beduidende morele verpligting en verantwoordelikheid om hierdie ideale te bevorder:
# SASSA verwelkom die inhegtenisneming van die elfde verdagte in die 250-miljoen-rand SASSA-kaart-bedrogsaak. Die verdagte het haarself aan die polisie oorgegee en sal binnekort in die hof verskyn. Tien ander verdagtes, insluitend sewe SASSA-werknemers, het verlede week in die Landdroshof in Lenasia verskyn. Die saak is tot 1 April uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. SASSA se woordvoerder, Paseka Letsatsi, veroordeel die daad en vra vinnige vervolging:
# Popcru eis geregtigheid ná die wrede moord op vyf lede van ‘n gemeenskapsveiligheidsforum in Soshanguve, Pretoria. Onbekende aanvallers het die patrollielede Saterdag geskiet, gestenig en deels verbrand toe hulle aan diens was in die Marry Me- informele nedersetting. Richard Mamabolo van die vakbond versoek die gemeenskap om wetstoepassers te help om die skuldiges op te spoor en die veiligheid van sekerheidspersoneel te verbeter:
# Griekeland is bekommerd oor die politieke situasie in die buurland, Turkye, nadat Istanboel se magtige opposisie-burgemeester, Ekrem Imagoglu, in hegtenis geneem is. Regeringswoordvoerder Pavlos Marinakis sê die ondermyning van die regsorde en burgerlike vryhede kan nie geduld word nie. Hy sê Ankara sal oortuigende antwoorde moet verskaf oor enige moontlike skending van dié beginsels. Marinakis waarsku ook die gebeure kan ‘n invloed hê op die komende vergadering tussen Griekeland se eerste minister, Kyriakos Mitsotakes, en die Turkse president, Tayyip Recep Erdogan.
# Motorsport: Ferrari se Formule Een-span sê daar was geen bedoeling om enige voordeel te behaal nadat albei sy bestuurders gediskwalifiseer is na Sondag se Chinese Grand Prix in Shanghai nie. Charles Leclerc was vyfde en Lewis Hamilton sesde, maar albei is daarna ingelig dat tegniese oortredings hul uitslae nietig gemaak het. Die span sê Leclerc se motor was net ‘n kilogram ondergewig omdat hul een-stop-strategie beteken het sy bandverbruik was baie hoog, terwyl Hamilton se agterste plaat wat aan die rand van die drukvlerk kom, vervang is. Oscar Piastri van McLaren het gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-152-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-11-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Volgens die jongste World Happiness Report wat by die Universiteit van Johannesburg bekendgestel is, is Suid-Afrika die 99ste gelukkigste land in die wêreld en 4de in Afrika. Die universiteit het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrika-instelling te word om hierdie geleentheid aan te bied. Die verslag beklemtoon Afrika-lande soos Mauritius loop voor op die gelukmeter, en gemeenskapswaardes soos ubuntu dra tot die algemene welstand by. Suid-Afrika staar verskeie uitdagings in die gesig soos geld wat geskenk word en vrywillige tyd, maar die land blink uit in vertroue en bestuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….