Nuus 15:00
BULLETIN 24 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa versoek eenheid te midde van globale politiek van onenigheid
# ANC-Veteraneliga vra Suid-Afrika om Amerikaanse betrekkinge te herstel
# En Brisbane herstruktureer sy planne vir 2032 se Olimpiese Spele
# President Cyril Ramaphosa moedig Suid-Afrikaners aan om die onenigheid te verwerp wat wêreldwyd kop uitsteek, veral rakende die spanning met Amerika. Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief oor Menseregtedag gepraat en die vals berigte genoem dat mense in Suid-Afrika op grond van ras of kultuur vervolg word. Sy kommentaar volg ná toenemende spanning met Amerika te midde van die gebeure rondom die voormalige ambassadeur, Ebrahim Rasool. Ramaphosa het Suid-Afrika se steun bevestig vir wêreldwye menseregte en solidariteit met diegene wat wêreldwyd vervolg word.
Die ANC-Veteraneliga veroordeel intussen Amerika se behandeling van Rasool en noem dit onwaardig. Hy is uit die land gesit oor sy standpunt rakende die Trump-administrasie. Die ANC-veteraan, Snuki Zikalala, het teenoor Newzroom Afrika kommer uitgespreek oor Amerika se wêreldwye invloed. Hy dring aan op die hernuwing van betrekkinge tussen die twee lande met klem op ekonomiese groei en handel, terwyl weerstand gebied word teen toenemende imperialistiese bedreigings:
# Business Leadership South Africa sê ArcelorMittal Suid-Afrika se voorgestelde reddingsplan is onvolhoubaar. Daar is nie ‘n duidelike uittrede-strategie vir die plan nie, wat gebruik sal maak van die tydelike werkgewer/werknemer-verligtingskema om in die volgende 12 maande byna drie-duisend werknemers teen 417-miljoen-rand te befonds. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, voer in haar weeklikse nuusbrief aan openbare hulpbronne moet gebruik word vir strukturele hervormings wat volhoubare werkskepping ondersteun en nie tydelike oplossings bied wat nie onderliggende kwessies by die onderneming verbeter nie.
# Build One South Africa sê die laaste bevinding en navorsing deur die Teddiebeer-stigting het die skokkende werklikheid blootgelê dat Suid-Afrika se mislukte regstelsel nie kwesbare kinders beskerm nie. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê volgens die stigting is meer as vyf-duisend sake van kindermishandeling in die laaste vyf jaar by die organisasie aangemeld, maar slegs vier-persent het tot skuldigbevindings gelei:
# Olimpiese Spele: Die Australiese stad Brisbane het die herstrukturering van sy planne vir die aanbied van 2032 se Spele aangekondig en gesê dit sal jare van chaos en krisis beëindig. Die nuwe plan sluit die bou van ‘n stadion met 60-duisend-sitplekke in. Queensland se premier, David Crisafulli, sê hulle glo hulle het ‘n plan om die skouspel weer op koers te kry. Hy sê hy het die plan met eerste minister, Anthony Albanese, bespreek, terwyl die federale regering alreeds ingestem het om vir baie van die infrastruktuur te betaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-559-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-26-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….