Nuus 14:00
BULLETIN 24 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motsoaledi sê die sny van gesondheidsbefondsing is ‘n bedreiging vir Suid-Afrika se mediese navorsing
# Die ANC sê die stryd vir geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid strek oor grense
# En vier mense sterf in ‘n botsing op die N1 naby Pienaarsrivier in Limpopo
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die kansellasie van die Nasionale Instituut van Gesondheid se befondsing is ‘n reuse-terugslag vir Suid-Afrika. Meer as 4,5-miljard-rand se navorsingsbeurse vir MIV/Vigs en tuberkulose is oor die naweek beiëndig. Kenners beraam dat die instelling 70-persent van Suid-Afrika se mediese navorsing befonds. Die verwikkeling kan lei tot werksverliese en die beëindiging van kliniese toetse. Die minister waarsku oor ernstige gevolge vir gesondheidsorg en wetenskaplike vooruitgang:
Die ANC het intussen die onwrikbare solidariteit verwelkom wat progressiewe parlementslede van reg oor die wêreld onder die vaandel van Progressive International getoon het. Meer as 100 lede van parlemente en wetgewers het Suid-Afrika se onafhanklikheid bevestig en die Amerikaanse president, Donald Trump, versoek om sy uitvoerende bevel van 7 Februarie terug te trek waarin alle hulp aan Suid-Afrika opgeskort word. Die ANC sê die groep se gesamentlike posisie herbevestig die onuitwisbare krag van internasionale solidariteit en is ‘n aanmaning dat die stryd om geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid oor grense strek.
# Vier mense is vanoggend dood en nege beseer in ‘n botsing tussen ‘n brandstoftenkwa en ‘n stilstaande bus op die N1 naby Pienaarsrivier in Limpopo. Die bus het sonder brandstof langs die pad gaan staan. Die tenkwa het aan die brand geslaan en die vlamme het na die bus versprei waarin passasiers gewag het. ‘n Polisiewoordvoerder, Tidimalo Chuene, het motoriste gevra om versigtig te wees in die omgewing:
# Rugby: Die veelsydige Springbok-voorspeler Deon Fourie sal komende naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Ulster in Belfast, Noord-Ierland, misloop. Hy is beseer in die Stormers se oorwinning van 29-17 Saterdag oor Scarlets in Wallis. Die Kaapse span het met dié oorwinning van 12de na agste plek op die punteleer verbeter. Nog ‘n oorwinning kan hulle onder die topspanne in die kompetisie plaas. Die Bulle is tans derde en die Haaie vierde met die Leeus wat na hulle nederlaag teen Cardiff dertiende op die punteleer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-327-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-29-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-3-sent per vat.
# En laastens, die Stad Kaapstad se Gesondheidsdepartement het sy toewyding bevestig om tuberkulose uit te wis deur middel van beter voorkoming, vroeë opsporing en versterkte ondersteuning. Dit is vandag Wêreld-tuberkulose-dag wat ‘n geleentheid bied om voortgesette pogings en sterker toewyding op plaaslike, nasionale en internasionale vlak aan te moedig om TB uit te wis. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê 69-duisend-938 mense is verlede jaar in die stad vir TB getoets en 12-persent was positief:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….