Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met baie goeie atletieknuus: Die 23-jarige Prudence Sekgodiso het Suid-Afrika se eerste goue medalje op die Binnenshuise Wêreldkampioenskap in Nanjing, China, gewen. Sy het die 800-meter vir vroue in ‘n puik tyd van een minuut-58,40-sekondes gewen, met Nigist Getachew van Ethiopië tweede en Patricia Silva van Portugal derde. Sekgodiso se goud is die land se tweede medalje op die kampioenskap, wat saam met Akani Simbine se brons in die 60 meter, Suid-Afrika nou in elfde plek op die medaljelys plaas. Dit is die eerste medalje ooit vir ‘n Suid-Afrikaanse vrou op die kampioenskap.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner George Coetzee het ‘n finale ronde van drie onder 69 behaal en die Serengeti-uitspeeltoernooi op die Serengeti-landgoed in Gauteng met drie houe gewen. Dis sy 15de titel op die Sonskyntoer. Daniel van Tonder was tweede op 16 onder baansyfer met ʼn finale ronde van 69. Stefan Wears-Taylor deel die derde plek met die jongelinge, Kyle de Beer en Stals Swart. Coetzee sê hy het aanhou oefen ten spyte van sy besering:
# Krieket: Sunrisers Hyderabad en Chennai Super Kings is op die wenpad in die Indiese Premierliga. Ishan Kishan het ‘n onoorwonne 106 gemoker met die Sunrisers wat begin het met ‘n oorwinning met 44-lopies oor Rajasthan Royals. Sunrisers het in verlede jaar se eindstryd teen Kolkata Knightriders verloor. In gister se tweede wedstryd het Rachin Ravindra van Nieu-Zeeland ‘n onoorwonne 65 aangeteken vir Chennai, wat Mumbai Indians met vier paaltjies verslaan het. Vandag pak Delhi Capitals vir Lucknow Super Giants.
# Motorsport: Drie renjaers is op die Formule Een Chinese Grand Prix gediskwalifiseer nadat hulle nie tegniese ondersoeke kon slaag na die wedren nie. Charles Leclerc van Ferrari het sy vyfde plek verloor omdat sy motor ondergewig was. Sy spanmaat Lewis Hamilton, wat sesde geëindig het, is gediskwalifiseer omdat sy motor minder as die vereiste dikte gehad het. Alpine se renjaer, Pierre Gasly, het sy elfde plek verloor omdat hy nie die gewigstoetse kon slaag nie. Oscar Piastri van McLaren het die wedren in Sjanghai gewen. Sy spanmaat Lando Norris was tweede en George Russell van Mercedes derde.
# En ten slotte, tennis: Die sesmalige Miami Ope-kampioen, Novak Djokovic, is deur na die laaste 16 toe hy die Argentyn Camilo Ugo Carabelli verslaan het. Die Serwiër het nou ‘n rekord van 411 ATP Meesters-een-duisend-wedstryde gewen en die Spanjaard, Rafael Nadal, verbygesteek. Djokovic speel volgende teen die Italianer Lorenzo Musetti, wat Felix Auger-Aliassime van Kanada geklop het. Die Amerikaner Sebastian Korda het met die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgereken terwyl Gael Monfils van Frankryk ʼn oorwinning oor Jaume Munar van Spanje behaal het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….