Nuus 12:00
BULLETIN 24 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika herverbind hom tot die bevordering van menseregte vir almal
# Jozi My Jozi wil graag deel wees van die presidensiële werkgroep vir die heropbou van Johannesburg
# En ie IVP verdedig Ithala-bank en die Ingonyama-trust
# President Cyril Ramaphosa sê die meeste mense in Suid-Afrika glo steeds in demokrasie, menseregte en die oppergesag van die reg. Die land het Vrydag Menseregtedag herdenk. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrikaners behoort verdeeldheids-politiek te verwerp, veral die vals bewering dat mense van ‘n sekere rassegroep geteiken word. Hy sê Suid-Afrika staan saam met almal wie se reg tot ‘n waardige lewe deur konflik en oorlog ondermyn word.
# Die gemeenskapsorganisasie Jozi My Jozi sê hy wil graag deel wees van die presidensiële werkgroep wat Johannesburg moet heropbou. Dit volg op Ramaphosa se onlangse aankondiging dat hy ‘n groep saamstel om dienslewering in die metro te verbeter. Innocent Mabusela van Jozi My Jozi het die noodsaaklikheid van dié samewerking beklemtoon. Hy sê die organisasie sal volhou om met die regering saam te werk, omdat die vorming van sterk verhoudings op plaaslike en provinsiale vlak dringend noodsaaklik is:
# Die nasionale woordvoerder van die IVP, Mkhuleko Hlengwa, vra die Ithala-bank moet sy werk voortsit weens die bank se rol in ekonomiese bemagtiging. Hy maan ook teen die ontbinding van die Ingonyama-trust, en hou vol dit moet onaangeraak bly. Hlengwa het gepraat op die party se 50ste herdenking in die Prins Mangosuthu Buthelezi-stadion in KwaZulu-Natal. Hy het opbouende debatte aangemoedig oor 2025 se begroting en ingrepe oor die Wet op Onteiening, wat internasionaal spanning laat oplaai het:
# Tennis: Die sesmalige Miami Ope-kampioen, Novak Djokovic, is deur na die laaste 16 toe hy die Argentyn Camilo Ugo Carabelli verslaan het. Die Serwiër het nou ‘n rekord van 411 ATP Meesters-een-duisend-wedstryde gewen en die Spanjaard, Rafael Nadal, verbygesteek. Djokovic speel volgende teen die Italianer Lorenzo Musetti, wat Felix Auger-Aliassime van Kanada geklop het. Die Amerikaner Sebastian Korda het met die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgereken terwyl Gael Monfils van Frankryk ‘n oorwinning oor Jaume Munar van Spanje behaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-178-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-23-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Professor Renier Coetzee van die Universiteit van die Wes-Kaap sê befondsingsprobleme bedreig die vordering in die stryd teen tuberkulose. Die onttrekking van die Amerikaanse president se noodplan vir vigs-verligting se fondse plaas groot druk op nie-regeringsorganisasies. Baie organisasies soos TB Proof, ANOVA en TB/HIV Care maak op hierdie fondse staat vir hul programme. Coetzee sê sonder voldoende hulpbronne kan mentorskaps-programme, slypskole en bewusmakingsveldtogte verminder of gestaak word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….