Nuus 11:00
BULLETIN 24 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika is steeds verbind tot die bevordering van menseregte vir almal
# Die Kusile-kragstasie se laaste eenheid voeg die eerste keer 800-megawatt by die kragnetwerk
# En tennis, Djokovic maak geskiedenis op die Miami Ope
# President Cyril Ramaphosa sê die meeste mense in Suid-Afrika glo steeds in demokrasie, menseregte en die oppergesag van die reg. Die land het Vrydag Menseregtedag herdenk. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrikaners behoort verdeeldheids-politiek te verwerp, veral die vals bewering dat mense van ‘n sekere rassegroep geteiken word. Hy sê Suid-Afrika staan saam met almal wie se reg tot ‘n waardige lewe deur konflik en oorlog ondermyn word.
# Eskom het ‘n belangrike mylpaal in ‘n reuse-infrastruktuurprojek bereik met die aansluiting van Kusile-kragstasie in Mpumalanga se laaste eenheid by die nasionale kragnetwerk. Eenheid ses sal 800 megawatt by die netwerk voeg. Kusile se susterprojek, Medupi in Limpopo, se eenheid vier sal die einde van die maand weer by die netwerk gevoeg word. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Kusile se eenheid ses sal oor die volgende ses maande uitgebreide toetse ondergaan en aangepas word voordat dit kommersieel funksioneer:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, is woedend oor die naweek se aanval op gemeenskapspatrolleerders in die Mary Me-informele nedersetting in Soshanguve, Pretoria. Vyf patrolleerders is doodgeskiet en sewe gewond. Mchunu se woordvoerder, Kamogeleo Mogotsi, sê die voorlopige ondersoek toon dat vyf mense die patrolleerders in ‘n straat voorgekeer het, waarna ‘n bakleiery onstaan het:
# Betogings neem toe in Istanboel, Turkye, na die inhegtenisneming van president Recep Tayyip Erdogan se vernaamste teenstander in 2028 se verkiesing. Burgemeester Ekrem Imamoglu, wat die Republikeinse Volksparty se presidentskandidaat is, is gister amptelik aangekla. Aanklagte teen hom sluit in dat hy ʼn misdaadorganisasie lei, omkopery, wangedrag en korrupsie. Tientalle van sy personeellede en munisipale amptenare word ook aangekla. Imamoglu ontken die aanklagte en sê die bewerings is polities gemotiveer. Minstens 300 betogers is aangekeer.
# Tennis: Die sesmalige Miami Ope-kampioen, Novak Djokovic, is deur na die laaste 16 toe hy die Argentyn Camilo Ugo Carabelli verslaan het. Die Serwiër het nou ‘n rekord van 411 ATP Meesters-een-duisend-wedstryde gewen en die Spanjaard, Rafael Nadal, verbygesteek. Djokovic speel volgende teen die Italianer Lorenzo Musetti, wat Felix Auger-Aliassime van Kanada geklop het. Die Amerikaner Sebastian Korda het met die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgereken terwyl Gael Monfils van Frankryk ʼn oorwinning oor Jaume Munar van Spanje behaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-58-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….