Nuus 09:00
BULLETIN 24 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists & Citizens Forum wil Lindiwe Sisulu as ambassadeur in die VSA hê
# Die loononderhandelinge tussen Transnet en die vakbonde word die week hervat
# En Gaza is op die rand van ‘n hongersnood
# Die Activists & Citizens Forum sê president Cyril Ramaphosa moet oorweeg om die gewese minister van Toerisme, Lindiwe Sisulu, as Suid-Afrika se ambassadeur na Amerika te stuur. Dit volg nadat Ebrahim Rasool, wat in Desember as die land se ambassadeur in Washington aangestel is, verlede week uit Amerika verban en as ongewensde persoon verklaar is ná sy kritiek op president Donald Trump se administrasie. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê Sisulu het die nodige vaardighede om die land te verteenwoordig:
# Transnet en georganiseerde arbeid se loononderhandelings vir 2025/2026 hervat hierdie week na ‘n afkoeltydperk van twee weke. Die vakbonde Satawu en UNTU het Transnet se aanbod van ʼn verhoging bo inflasie verwerp wat 16-persent oor die volgende drie jaar beteken, met ʼn loonverhoging van 5,5-persent in die 2025/2026-boekjaar. Satawu stel ʼn algehele verhoging voor van 17,5-persent vir drie jaar terwyl UNTU ʼn jaarlikse verhoging van 10-persent vir alle werkers vra.
# Die ANC in Tshwane sê hy is teleurgesteld in die DA- en Vryheidsfront Plus-raadslede op die Komitee vir Finansies wat uitgestap het oor bewerings dat die lede nie hul verslae betyds ontvang het nie, wat volgens die ANC onwaar is. Joel Masilela van die ANC sê terwyl Jacqui Uys van die DA op die komitee gedien het, het die metro sowat 800-miljoen-rand verloor. Masilela sê die uitstappery was ‘n poging om die raad te dwarsboom in hul taak om die euwels bloot te lê wat die metro se geldsake tot die swakste ooit agteruit laat gaan het:
# Die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge, UNRWA, sê die streng Israelse blokkade van humanitêre voorrade kan ʼn hongerkrisis in Gaza veroorsaak. Meer as 50-duisend Palestyne is volgens berigte dood sedert Israel se militêre aanval ná die slagting op 7 Oktober 2023 begin het. Israel het verlede week sy veldtog in Gaza hervat na ʼn skietstilstand van byna twee maande. Sam Rose van UNRWA sê elke dag sonder hulp in die streek beteken kinders gaan honger slaap, siektes versprei en tekorte neem toe:
# Krieket: Die Sunrisers Hyderabad en die Chennai Super Kings is op die wenpad in die Indiese Premierliga. Ishan Kishan het ‘n onoorwonne 106 gemoker met die Sunrisers wat met ‘n 44-lopie-oorwinning teen die Rajasthan Royals begin het. Die Sunrisers het in verlede jaar se eindstryd teen die Kolkata Knightriders verloor. In Sondag se tweede wedstryd het Rachin Ravindra van Nieu-Zeeland ‘n onoorwonne 65 aangeteken vir die Chennai Super Kings se vier-paaltjie oorwinning teen die Mumbai Indians. Vandag pak die Delhi Capitals die Lucknow Super Giants.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-732-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-719-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-18-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….