Nuus 08:00
BULLETIN 24 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsveiligheidsagentskap verwerp die bestaan van ‘n sogenaamde Operasie Sibonkolo
# Minister Creecy wil die spoor- en hawenetwerke laat herleef
# En gholf: George Coetzee wen die Serengeti-uitspeeltoernooi
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Staatsveiligheidsagentskap het nie ‘n Operasie Sibonkolo nie. Dit volg na berigte in ʼn Sondagkoerant dat ʼn intelligensieverslag beweer Ntshavheni word beskuldig dat sy staatsbronne misbruik om haar politieke en persoonlike ambisies te bevorder. Sy het volgens berigte ʼn geheime operasie, Sibonkolo, begin om die huidige adjunkpresident, Paul Mashatile, en nege ander senior ANC-leiers dop te hou en smeerveldtogte teen hulle te voer. Ntshavheni beskryf die bewerings as afleidingstaktieke wat vordering in die agentskap se hervormingsproses wil ondermyn.
# Die Vervoerminister, Barbara Creecy, het ʼn inligtingsversoekproses bekendgestel om die land se sukkelende spoorweg en hawens deur strategiese vennootskappe met die privaat sektor te red. Die regering soek markinligting oor die privaat sektor se belangstelling om noodsaaklike spoor- en hawe-infrastruktuur te ontwikkel wat die uitvoer van belangrike goedere sal ondersteun. Creecy sê die land se spoor- en hawe-infrastruktuur loop deur onder verswakte prestasie, diefstal en vandalisme, onderbelegging en bedryfsondoeltreffendheid wat ekonomiese groei belemmer:
# Die DA in Gauteng oefen druk uit op die Tshwane-metropolisie en die SAPD om misdaadbestrydingspogings op te skerp. Dit volg op die gewelddadige aanval in Soshanguve se Marry Me-informele nedersetting, waar vier gemeenskapspatrolleerders vermoor en nog agt gewond is. Die slagoffers is geskiet en deels verbrand, wat ‘n teken is van toenemende misdaadvlakke. Crezane Bosch van die DA vra beter polisiebronne om wet en order te herstel:
# Vyf mense is gisteraand dood in ʼn Israelse lugaanval op ʼn hospitaal in die suide van Gaza wat ʼn senior Hamas-leier, Ismail Barhoum, insluit. Hy was in die hospitaal nadat hy in ʼn vorige aanval gewond is. Israel se weermag sê hy het ná ʼn uitgebreide intelligensie-proses ʼn belangrike Hamas-lid uitgeskakel wat van binne die hospitaalterrein bedrywig was. Nog ʼn Hamas-leier, Salah al-Bardaweel, is in ʼn ander aanval in Khan Younis dood. Israel het verlede week sy militêre veldtog in Gaza hervat nadat die skietstilstand van twee maande beëindig is.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner George Coetzee het ʼn finale ronde van drie onder 69 behaal en die Serengeti-uitspeeltoernooi by die Serengeti-landgoed in Gauteng met drie houe gewen. Dis sy 15de titel op die Sonskyntoer. Daniel van Tonder was tweede op 16 onder baansyfer met ʼn finale ronde van 69. Stefan Wears-Taylor deel die derde plek met die jongelinge, Kyle de Beer en Stals Swart. Coetzee sê hy het aanhou oefen ten spyte van sy besering:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-295-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-18-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….