Nuus 13:00
BULLETIN 23 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP gaan ekonomiese opheffing voorstaan in die komende nasionale dialoog
# Vroue op Plase eis beskerming teen landbougifstowwe
# En, Boks Suid-Afrika bring hulde aan die legendariese George Foreman
# Die president van die IVP Velenkosini Hlabisa het onderneem om ekonomiese opheffing voor te staan as ‘n belangrike agenda-onderwerp in die komende nasionale dialoog oor sosio-ekonomiese uitdagings. Hlabisa het gepraat voor die 50ste herdenking van die party in die Prins Mangosuthu Buthelezi-stadion en klem geplaas op werkskepping en optrede teen geslagsgeweld. Hlabisa vra ook misdaadvoorkoming en ‘n veiliger omgewing om beleggers te lok:
Vroeër is 22 mense is beseer in ‘n busongeluk op die R34 naby Vryheid. Hulle was op pad van Gauteng af na die IVP-saamtrek. Die LUR vir Vervoer Siboniso Duma het bevestig die ongeluk het vanoggend gebeur toe die Sun Coaches-bus omgeslaan het. Daar is aanduidings dat spoed die hoofoorsaak was. Niemand is oorlede nie, maar van die passasiers is in ‘n bedenklike toestand.
# Die Vroue op Plase-projek hou die Suid-Afrikaanse regering aanspreeklik vir die gebrek aan beskerming vir plaaswerkers teen skadelike landbougifstowwe. Die direkteur Colette Solomon het in Stellenbosch gepraat en ernstige gesondheidsrisiko’s uitgelig wat verbind word met giftige plaagdoders. Sy vra ‘n verbod op gevaarlike chemikalië en beter beskerming vir werkers terwyl sy die grondwetlike reg op lewe beklemtoon:
# Venezuela het ‘n ooreenkoms bereik met Amerika om die repatriasievlugte van migrante te hervat. President Nicolas Maduro het die aankondiging gister op televisie gemaak. Maduro het gesê die vlugte sal vandag hervat word, danksy die vasberadenheid van die regering. Hy voeg by die land sal vlugte hervat om steeds migrante te red en vry te laat uit tronke in die Verenigde State. Dit gebeur te midde van ‘n diplomatieke geskil tussen Amerika en Venezuela oor die onlangse deportasievlugte van migrante van Venezuela na El Salvador.
# En ten slotte: Die beheerliggaam Boks Suid-Afrika het hulde gebring aan die tweemalige swaargewigkampioen en Olimpiese held, George Foreman. Hy is Vrydag oorlede, omring deur sy geliefdes. Die voorsitter van BoksSA, Ayanda Khumalo, prys sy veerkragtigheid en uitwerking op die sport en noem hom ‘n wêreldwye legende. Sy sê legendes sterf nooit nie en Foreman se nalatenskap in boks en humanitêre werk sal steeds geslagte inspireer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….