Nuus 08:00
BULLETIN 23 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Maimane waarsku teen bedreigings vir nasionale eenheid
# ‘n Vlieënier sterf in ‘n Weskus-lugskou-ongeluk
# En motorsport: Oscar Piastri van McLaren palm die eerste voorste wegspringposisie van sy loopbaan in
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, waarsku die land se vordering oor 30 jaar is in gevaar. Hy beskuldig groepe soos AfriForum en Solidariteit van die saai van verdeeldheid, wat eenheid en maatskaplike samehorigheid bedreig. Maimane moedig burgers aan om verdelende politiek te verwerp en te fokus op ‘n inklusiewe, vooruitstrewende nasie. Hy vra gesamentlike pogings om Suid-Afrika se toekoms te versterk en terugslae vir die demokrasie te keer:
# ‘n Vlieënier is dood toe sy vliegtuig gistermiddag tydens die Weskus-lugskou in Saldanhabaai neergestort het. Oogtuies het gesien hoe die Impala Mk1, met James O’Connell aan die stuur, opgestyg en getol het, voor dit neergestort en in vlamme uitgebars het. Noodspanne was binne minute op die toneel, maar die wrak was in ligte laaie. O’Connell, wat ‘n ervare toetsvlieënier was, is op slag dood. Die weersomstandighede het vroeër gister kommer gewek. Ondersoeke deur lugvaartowerhede en die polisie duur voort.
# Die Suid-Afrikaanse Taxiraad vir Vroue het ‘n stofferings- en uniformvervaardigingsaanleg in die Ugu-streek van KwaZulu-Natal bekend gestel wat die eerste van sy soort is. Dit wil vroue in die bedryf bemagtig en die ekonomie ‘n hupstoot gee in 57 streke. Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê die projek is ‘n stap na geslagsgelykheid in die sektor en gee vroue die geleentheid om beheer te neem oor hulle toekoms:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het sy voorneme aangekondig om die tydelike regstatus van 530-duisend migrante te herroep. Die migrante van Kuba, Haïti, Nicaragua en Venezuela is gemaan om die land te verlaat voordat hulle permitte en deportasie-beskerming voor die 24ste van volgende maand verval. Hulle het na Amerika gekom onder ‘n borgskapsprogram tydens die bewind van Joe Biden wat gemik was op die oopstel van wettige migrasieweë. Trump het kort die program opgeskort nadat hy Biden opgevolg het.
# En, motorsport: Oscar Piastri van Australië het sy spanmaat Lando Norris uitoorlê deur die eerste voorste wegspringposisie van sy loopbaan in te palm vir vandag se Chinese Grand Prix in Shanghai. George Russell van Mercedes is tweede. Die Formule Een 2025 Kampioenskap-voorloper, Lando Norris, spring derde weg nadat hy sy finale kwalifiserende ronde laat vaar het, met die Red Bull-span van die heersende wêreldkampioen Max Verstappen ook in die tweede ry. Lewis Hamilton lei die derde ry vir Ferrari nadat hy sy spanmaat Charles Leclerc geklop het vir die vyfde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….