Nuus 11:00
BULLETIN 22 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DBV vra regeringsoptrede te midde van ‘n dreigende voëlgriep-ramp
# Geen gemene spel word vermoed in die brand in ‘n substasie wat Heathrow tot stilstand gedwing het nie
# En rugby: Die Bulle ontvang vanmiddag die voorloper op die VRK-punteleer, Leinster, op Loftus
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings waarsku Suid-Afrika staan op die rand van ‘n voëlgriep-ramp weens die regering se gebrek aan optrede. Senior inspekteur Nazareth Appalsamy sê nog ‘n uitbreking kan die pluimveebedryf verwoes en wilde voëls bedreig. Hy vra die minister van Landbou, John Steenhuisen, om die inentingsbeleid te hersien. Appalsamy beklemtoon sonder dringende ingryping is ‘n uitbreking onvermydelik, met rampspoedige gevolge vir die ekonomie en diere-welstand:
# Al Jama-ah moedig Suid-Afrikaners aan om hulle stemme te laat hoor teen ongeregtigheid. Die leier van die party, Ganief Handricks, het op Menseregtedag hulde gebring aan die slagoffers van die Sharpeville-slagting van 1960. Hy onderstreep dat die stryd om geregtigheid voortduur, en maak voorspraak vir grondonteiening sonder vergoeding. Hendriks wys ook op globale menseregteskendings in Palestina, Kasjmir en die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy beklemtoon die behoefte aan lesse uit die geskiedenis om toekomstige optrede te rig:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra die Departement van Basiese Onderwys om sy beleid teen afknouery as ‘n saak van dringendheid in werking te stel om die toenemende voorvalle van afknouery in skole te beperk. Makaneta sê Suid-Afrika het steeds ‘n lang pad om te loop, ondanks die Handves van Menseregte wat van kardinale belang is vir die grondwetlike demokrasie:
# Geen gemene spel word vermoed in gister se brand by ‘n elektriese substasie in Londen wat gelei het tot die algehele sluiting van een van wêreld se besigste lughawens, Heathrow, nie. Dit kon eers 16 uur later weer begin werk, wat wêreldwyd lugverkeerchaos veroorsaak het. Meer as 145-duisend passasiers is vermoedelik geraak. Die lughawe se uitvoerende hoof, Thomas Woldbye, het verskoning gevra vir die ontwrigting en die voorval beskryf as uiters ernstig. Hy sê hulle verwag om vandag weer ten volle in werking te wees.
# En rugby: Die Bulle verwelkom vanmiddag die voorloper op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer, die Ierse span Leinster, in Pretoria. Afskoptyd op Loftus is vyf-uur – dieselfde tyd as wat die kragmeting tussen die Stormers en Scarlets in Wallis begin. Vroeër speel die Haaie in ‘n tuiswedstryd teen Zebre van Italië in Durban. Die Leeus het gisteraand in die Walliese hoofstad 20-17 teen Cardiff verloor en bly in die agtste posisie. Glasgow is tans tweede op die punteleer, gevolg deur die Bulle en die Haaie. Die Stormers lê twaalfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….