Nuus 09:00
BULLETIN 22 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika hou 47-miljard-rand se klimaatsfinansiering aan Suid-Afrika terug
# Malema dring aan op onteiening van vrugbare grond sonder vergoeding vir swartmense sonder grond
# En krieket: KKR verwelkom Royal Challengers Bengaluru in die aanvangswedstryd van die IPL
# Amerika het ‘n klimaatsfinansieringspakket van 47-miljard-rand aan Suid-Afrika teruggehou, wat kommer wek dat dit heeltemal stopgesit kan word. Amerikaanse beamptes het op ‘n onlangse vergadering die goedkeuring voorkom van ‘n uitbetaling van nege-miljard-rand, wat verdere befondsing kon ontsluit het. Die stap dra by tot die spanning tussen die lande, met vorige Amerikaanse optrede wat insluit die staking van bydraes tot die presidensiële noodplan vir Vigsverligting en onttrekking uit globale klimaatsprogramme. Nog ‘n poging om fondse te kry kan in Junie aangewend word op vergaderings van die Klimaatsbeleggingsfonds.
# Die EFF-leier, Julius Malema, dring aan op die onteiening van vrugbare grond sonder vergoeding vir swartmense sonder grond. Hy het op Menseregtedag met ondersteuners gepraat by die Dlomo-dam in Sharpeville, Gauteng. Malema herbevestig sy party se standpunt teen die Wet op Grondonteiening in sy huidige vorm. Hy sê dit is ‘n kosmetiese maatreël wat nie grond teruggee aan die regmatige eienaars nie. Malema beloof om in die Parlement die stryd voort te sit vir onteiening sonder vergoeding:
AfriForum het intussen die regering, gelei deur die ANC, beskuldig dat hy nie menseregte handhaaf nie. Uitvoerende hoof Kallie Kriel lig die land se hoë moordsyfer, toenemende armoede en hoë werkloosheidskoers uit as bewyse van staatsmislukking. Hy kritiseer die regering vir die skep van ‘n onbestendige beleggingsklimaat. Kriel maan ook dat wanfunsionele skole en aanvalle op moedertaalonderwys kinders se toekoms bedreig, asook Afrikaans se kulturele oorlewing:
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Kolkata Knight Riders, is vanmiddag die gasheer vir Royal Challengers Bengaluru in die aanvangswedstryd van die Indiese Premierliga. Die wedstryd slaan om vier-uur, Suid-Afrikaanse tyd, af. Dertien stede in die land ontvang tien spanne in 74 kragmetings tot die eindstryd op 25 Mei, wat ook deur KKR aangebied word. Elke span speel sewe tuis- en sewe wegwedstryde, gevolg deur drie uitspeelkragmetings en die eindstryd. Die kompetisie se prysgeld beloop vanjaar 3,6-miljard-rand.
Nog nuus oor die IPL is dat die 13-jarige Vaibhav Suryavanshi geskiedenis sal maak as die jongste speler in die toernooi as Rajasthan Royals besluit om hom vanjaar speelkans te gee. Rajasthan begin sy veldtog môre teen Sunrisers Hyderabad. Die span het die kolwer vir 2,37-miljoen-rand gekoop. Kaptein Sanju Samson sê die tiener het dié week baie selfversekerd gelyk tydens oefening en sesse oor die pawiljoene gemoker. Kolf-afrigter Vikram Rathour het egter vroeër gesê hulle het nog nie besluit of hulle hom op dié jong ouderdom aan die internasionale spel gaan blootstel nie.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse regering het mense gevra om waaksaam te bly aangesien daar nie meer baie skerpioen-teengif beskikbaar is nie. Die provinsiale regering het veral die dikstertskerpioen uitgelig, die giftigste spesie wat in die gebied voorkom. Inwoners word aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref, soos om hul skoene uit te skud voor hulle dit aantrek, veral ná sononder, rommel op te ruim en rotsagtige gebiede te vermy waar skerpioene kan wegkruip.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….