Nuus 11:00
BULLETIN 21 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Professor Madonsela sê Suid-Afrika se menseregte-landskap het verbeter
# ‘n Reuse brand by die Heathrow-lughawe in Brittanje ontwrig vlugte
# En sokker: Engeland se nuwe afrigter wil hê sy span moet vreesloos speel
# Professor Thuli Madonsela van die Universiteit van Stellenbosch sê met die 31ste herdenking van demokrasie in Suid-Afrika, het die land sy menseregte-landskap verbeter. Sy sê menseregte is tydens apartheid geskend deur sistematiese beleid en wetgewing, en die regering het swart mense die reg om te stem, ontneem. Madonsela het bygevoeg dat die land tot dusver ook verbeter het op die gebied van politieke en menseregte:
En die GOOD Party sê, met die herdenking van Menseregtedag het alle Suid-Afrikaners toegang tot ‘n progressiewe Grondwet wat basiese menseregte waarborg, insluitende die reg tot lewe, gelykheid, waardigheid en vryheid van spraak. Die GOOD Party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hoewel Suid-Afrikaners die reg tot behuising het, is daar vyf-miljoen burgers wat nog steeds in informele nedersettings woon:
# City Power het aangekondig dat ‘n strafregtelike saak teen ‘n senior bestuurder van sy beplanningsafdeling gelê sal word nadat hy met ‘n elektrisiteitmeter gepeuter het. Na roetine-oudits is onreëlmatige elektrisiteitsaankope wat terugdateer na 2014, ontdek. City Power woordvoerder, Isaac Mangena, sê die bestuurder, wat huurwoonstelle besit, sal ook interne dissiplinêre optrede in die gesig staar. Hy het City Power se verbintenis beklemtoon om elektrisiteitsdiefstal en wangedrag onder werknemers te beveg om integriteit te herstel en finansiële stabiliteit te verseker.
# Owerhede by Brittanje se Heathrow-lughawe sê die lughawe sal vandag gesluit wees na ‘n reuse brand by ‘n nabygelëe elektriese substasie, wat ‘n massiewe kragonderbreking by Heathrow veroorsaak het en vlugroosters regoor die wêreld ontwrig het. Die Londense Brandweer sê sowat 70 brandweermanne is besig om die brand in die weste van Londen te bestry. Heathrow is die besigste lughawe in Europa en die wêreld se vyfde-besigste. Ongeveer 150 mense is uit nabygeleë geboue ontruim en duisende eiendomme is sonder krag.
# Sokker: Engeland se nuwe sokkerafrigter, Thomas Tuchel het Engeland aangemoedig om vreesloos te speel nadat hy hulle vertoning onder sy voorganger Gareth Southgate op hul pad na die Euro 2024-finaal gekritiseer het. Tuchel sal vandag vir die eerste keer in beheer wees van Engeland wanneer hulle teen Albanië in hulle eerste Wêreldbeker kwalifiseerder op Wembley speel. Die Duitser, wat die pos in Januarie oorgeneem het nadat hy in Oktober aangestel is, is gretig om ‘n meer dinamiese houding by sy span te ontwikkel ná hulle senuagtige vertoning in verlede jaar se Europese Kampioenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….