Eko-minuut 13:30
BULLETIN 20 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het herhaal dat die ontwikkeling van Suid-Afrika se olie- en gaspotensiaal ekonomiese groei ingrypend kan verander. Ondersoeke het bevind dat Suid-Afrika se kus- en aangrensende water sowat nege-miljard vate olie bevat, plus ‘n verdere elf-miljard vate gelykstaande aan natuurlike gas. Mantashe sê met die toenemende vraag na natuurlike gas handel die regering vinnig die Gasmeesterplan af om ‘n bestendige en groeiende ekonomie te bereik. Hy sê die plan is ontwerp om die bestaande energiebeleid aan te vul.
# Oudpresident Joe Biden word beskuldig dat hy ‘n verslag van 2023 weerhou het wat toon dat die uitvoer van Amerikaanse vloeibare aardgas geen betekenisvolle uitwerking op die wêreld se kweekhuisgasvrystellings gehad het nie. Amerika het in 2023 die wêreld se grootste uitvoerder geword, onderskraag deur nuwe aanvraag in die Europese Unie ná Rusland se oorlog in Oekraïne en sy skielike afsny van feitlik alle gasvoorrade. Die Huis-komiteevoorsitter oor oorsig en regeringshervorming, James Comer, sê die Biden-administrasie het Amerikaans-vervaardigde energieproduksie ondermyn om klimaatsaktiviste tevrede te stel.
# En ten slotte: Die ernstige droogte in Namibië is in die meeste gebiede gebreek ná onlangse goeie reën. Die vlak van die Hardap-dam naby Mariental in die suide het hierdie week tot 27,6-persent verbeter nadat dit aan die begin van die jaar amper leeg was op 5,5-persent. Die vlak van die Naute-dam naby Keetmanshoop het van 44-persent verlede week tot meer as 50-persent verbeter. Die Swakoppoort-, die Von Bach- en die Omatako-dam het vlakke van 36-persent bereik in vergelyking met minder as tien-persent in Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….