Nuus 11:00
BULLETIN 20 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile bevestig Suid-Afrika se verbintenis om bande met Japan te versterk
# Die GOOD-party versoek die Reserwebank om die repokoers vandag weer te verlaag
# En atletiek: Bayanda Walaza verbeter die Suid-Afrikaanse onder 20-rekord in die 200-meter
# Adjunkpresident Paul Mashatile het tydens ‘n werksbesoek aan Japan die sterk samewerking tussen die twee lande herbevestig op gebiede van wedersydse belang. Die lande vier vanjaar 115-jaar van goedgevestigde diplomatieke betrekkinge. Japan is ‘n belangrike belegger in die Suid-Afrikaanse ekonomie, met 273 maatskappye wat meer as 200-duisend plaaslike werksgeleenthede verskaf. Die Presidensie sê Mashatile het ook tydens die besoek klem gelê op Suid-Afrika se gunstige sake-omgewing, vaardige werksmag en strategiese ligging, wat dit aantreklik maak vir Japanse belegging.
# Die GOOD-party het die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee gevra om verligting te bring vir verbruikers wat in skuld gedompel is deur die terugkoopkoers vandag te verlaag. ‘n Paar ekonome verwag nog ʼn verlaging van 25 basispunte. Dit volg ná drie agtereenvolgende besnoeiings van 25 basispunte sedert September. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê verbruikers moet toenemend moeilike besluite neem oor besteding:
# Die Departement van Gesondheid moedig die publiek aan om uiters versigtig te wees vir m-pokke-simptome nadat nog drie laboratoriumbevestigde gevalle aangemeld is in Ekurhuleni, Gauteng. Die nuwe positiewe gevalle is twee manlik en ‘n vrou, onder wie ‘n 14-jarige. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die pasiënte is tans in selfafsondering en kry toepaslike behandeling. Hy voeg by daar is uitbrekingreaksiespanne in Gauteng vir kontakopsporing en die ondersoek van gevalle:
# Atletiek: Die tienersensasie Bayanda Walaza het gisteraand die Suid-Afrikaanse Onder-20-rekord in die 200-meter verbeter op AtletiekSA se Grand Prix-byeenkoms in Johannesburg. 2024 se Olimpiese silwermedaljewenner het die item gewen in ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 20,08-sekondes, 0,02-sekondes vinniger as Clarence Munyai se nasionale rekord van 20,10 in Maart 2017. Lucky Moleyane was tweede, met die voormalige Wêreldkampioenskap-finalis Luxolo Adams derde. Walaza sê hy werk deurgaans om te verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-820-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-46-dollar-64 per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-78-sent.
# En ten slotte: Finland is die agtste agtereenvolgende jaar boaan die Wêreld-Gelukkigheidsverslag. Vanjaar se verslag beoordeel 147 lande oor hulle vlakke van gelukkigheid, gegrond op die bevolking se gemiddelde beoordeling van hulle lewensgehalte van 2022 tot 2024. Denemarke is tweede, gevolg deur Ysland, Swede en Nederland. Suid-Afrika is 95ste op die lys. Navorsers het bevind ‘n geloof in die goedhartigheid van ander mense, sowel as om aktief om te gee en te deel met ander, het ‘n sterk uitwerking op geluk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….