Nuus 08:00
BULLETIN 20 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê daar is ‘n dringende behoefte aan ‘n mededingende energie-opwekkingsmark
# Donald Trump sê sy telefoongesprek met Zelenskyy was positief
# En tennis: Nick Kyrgios behaal sy eerste ATP-toeroorwinning sedert 2022
# Die DA sê die onverwagse terugkeer na beurtkrag as noodoptrede gaan meer ekonomiese verwoesting saai. Eskom het gisteraand fase twee-beurtkrag ingestel nadat hy voor spitstyd vyf opwekkingseenhede verloor het. Kevin Mileham van die DA sê die vlaag beurtkrag sonder enige kennisgewing wys die onweerlegbare behoefte aan ‘n mededingende energie-opwekkingsmark:
# ArcelorMittal South Africa sê hy beraadslaag met rolspelers, insluitend die regering, oor fondse wat die beplande sluiting van sy langstaalbedrywighede kan uitstel. Die staalmaker het aangekondig hy gaan teen April vanjaar langstaalvervaardiging by sy meulens in Newcastle en Vereeniging sluit. Dit sal drie-duisend-500 regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede raak. Die maatskappy se langstaal-bedryfsverlies het verdubbel van 600-miljoen-rand in 2023 tot 1,1-miljard-rand in 2024. ArcelorMittal sê sonder ʼn befondsingsooreenkoms is die uitstel van die langstaalonderneming se sluiting nie haalbaar nie.
# ActionSA in Ekurhuleni vra burgemeester Nkosindiphile Xhakasa om aandag te skenk aan die bekommernisse van die stad se Metropolitaanse Polisiedepartement. Lede het gister betoog teen oortyd-besnoeiings, personeeltekorte en ‘n gebrek aan noodsaaklike bronne. Michael Basch van ActionSA sê die optrede kom nadat oortydbegrotings reg oor die stad met 50-persent gesny is. Die besluit raak talle departemente, wat die EMPD insluit. Hy sê die stap het ondraaglike druk geplaas op ‘n werksmag wat reeds oorwerk is:
# President Donald Trump beskryf sy uur lange gesprek Woensdag met die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky as baie goed. ʼn Groot deel van die gesprek het gehandel oor maniere om Oekraïne en Rusland in ooreenstemming te bring wat hul versoeke en behoeftes betref. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê Trump en Zelensky het hul spanne opdrag gegee om voort te gaan met die besonderhede om ʼn gedeeltelike skietstilstand in te stel, met besprekings om enige skietstilstand na die Swartsee uit te brei:
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios het in die eerste ronde van die Miami Ope sy eerste ATP Toer-oorwinning sedert 2022 behaal. Die 29-jarige speler wat met voet- en polsbeserings sukkel, het die Amerikaner Mackenzie McDonald geklop. Die 38-jarige Fransman, Gael Monfils, het die Hongaar Fabian Marozsan verslaan om die tweede oudste man naas Jimmy Connors te word wat by die Miami Ope wen. In die vroueafdeling is Victoria Azarenka van Belarus en Naomi Osaka van Japan deur na die tweede ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-081-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-48-dollar-19 per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-78-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….