Nuus 06:00
BULLETIN 20 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 2-beurtkrag word ingestel weens die verlies van vyf opwekkingseenhede
# Trump se gesant sê ‘n ooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne is om die draai
# En krieket: Die Indiese Premierliga se prysgeld is vanjaar 3,6-miljard-rand
# Eskom sê hy was verplig om gisteraand fase twee-beurtkrag in te stel, wat tot 5-uur vanoggend van krag was. Dit is nadat hy vyf opwekkingseenhede voor spitstyd verloor het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle het merkwaardige vordering gemaak in hul opwekkingsherstelpogings. Sy sê in die lig van voortslepende stelseluitdagings, word die publiek versoek word om elektrisiteit spaarsamig te gebruik:
# Build One South Africa sal vandag regstappe teen die regering van nasionale eenheid aankondig om water aan kwesbare gemeenskappe te voorsien. Môre is Menseregtedag en die party sê voortdurende watertekorte skend mense se grondwetlike regte. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hulle wil hê die regering moet bestendige watervoorsiening waarborg aan burgers en instellings wat geraak word, en noem die krisis ‘n bestuursmislukking wat dringende ingryping vereis:
# Die portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het munisipaliteite versoek om hul ooreenkomste met Rand Water na te kom te midde van skuld ter waarde van meer as agt-miljard-rand. Rand Water het kwessies soos onwettige verbindings, skade aan infrastruktuur en wanbetaling uitgelig, wat gelei het tot finansiële druk. Die komitee bepleit verbeterde interregeringsverhoudinge en vennootskappe vir die opgradering van infrastruktuur, om watertoevoeronderbrekings in kwesbare gemeenskappe te voorkom. ‘n Spesiale-doel-entiteitsmodel is ook bespreek om die skuldlas te verlig.
# Die polisie in Kwa-Zulu Natal het ‘n 41-jarige Mosambiekse burger in hegtenis geneem wat verbind word met verskeie voorvalle van voertuigdiefstal en kapings in Emanguzi. Die verdagte is voorheen in Gauteng en Mpumalanga skuldig bevind en is Maandag met ‘n gesteelde vragmotor en sleepwaens betrap. Owerhede kon die voertuig met ‘n onlangse kaping verbind. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê hy was uit op borgtog vir soortgelyke misdade:
# Die Amerikaanse afgevaardigde Steve Witkoff sê tegniese besprekings oor ‘n moontlike ooreenkoms om die Rusland-Oekraïne-oorlog te beëindig, sal Maandag in Saoedi-Arabië begin. Hy meen ‘n wapenstilstandsooreenkoms kan binne ‘n paar weke bereik word. Hy het vertroue uitgespreek in die voortgesette onderhandelings na ‘n telefoongesprek tussen die Amerikaanse president Donald Trump en Vladimir Putin. Witkoff het nie besonderhede oor die onderhandelings in Saoedi-Arabië gegee nie, maar sê dit is tyd vir die tegniese spanne om die besonderhede te finaliseer met almal wat die proses ondersteun.
# Krieket: Ondersteuners van die sport gaan die volgende twee maande heerlik vermaak word wanneer die uiters gewilde Indiese Premierliga plaasvind met tien spanne wat in 13 stede altesaam 74 wedstryde speel. Die verdedigende kampioen, Kolkata Knight Riders, is gasheer vir Royal Challengers Bengaluru in Saterdag se openingswedstryd, en bied ook op 25 Mei die eindstryd aan. Elke span speel sewe tuis- en sewe wegwedstryde, gevolg deur drie uitspeelstryde en die eindstryd. Prysgeld is vanjaar 3,6-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-788-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-49-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….