Nuus 17:00
BULLETIN 19 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gesinne eis optrede oor mans se aanhouding in Ekwatoriaal-Guinee op vooraand van Menseregtedag
# Die Activists and Citizens Forum sê die voorgestelde borgtogfonds sal misdaad verhoog en oorbevolking in tronke vererger
# En ‘n Zimbabwiese oorlogsveteraan vra ‘n landwye verset-optrede teen president Mnangagwa
# Frik Potgieter en Peter Huxham se gesinne vra die regering om sy diplomatieke pogings te verskerp om die twee ingenieurs se vrylating uit onregmatige aanhouding in Ekwatoriaal-Guinee te verseker. Die pleidooi volg voor Suid-Afrika Vrydag Menseregtedag herdenk. Hulle bly in aanhouding ondanks die Verenigde Nasies se beslissing verlede jaar dat dit onwettig is. Hul gesinne bepleit genade en beklemtoon Suid-Afrika se verbintenis tot menseregte. Hulle het bevestig byna 16-duisend handtekeninge is gewerf op ‘n wêreldwye versoekskrif vir hul vrylating.
# Die Activists and Citizens Forum verwerp die voorgestelde borgtogfonds en waarsku dit sal misdaad en oorbevolking in tronke vererger. Die forum voer aan om belastingbetalers se geld te gebruik vir die befondsing van misdadigers se regsverteenwoordigers is verkeerd en los nie die hoofoorsaak van misdaad op nie. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, noem die borgtogfonds ‘n resep vir mislukking en vra die regering om alternatiewe oplossings te vind vir oorvol tronke:
# Die Zimbabwiese oorlogsveteraan Blessed Geza het ‘n oproep gedoen vir ‘n landwye verset-optrede op 31 Maart om president Emmerson Mnangagwa se bedanking te eis. Geza het die beplande betoging as ‘n opstand beskryf. Die voormalige offisier in die Geheime Diens beskuldig Mnangagwa van politieke moorde en korrupsie. Hy het ook steun uitgespreek vir vise-president Constantino Chiwenga se presidensiële ambisies. Die politieke ontleder Ntsikelelo Breakfast waarsku oor ‘n moontlike staatsgreep:
# Hamas sê hy is steeds gewillig om te onderhandel en versoek dat druk op Israel uitgeoefen moet word vir ‘n wapenstilstand in Gaza, ná die dodelikste bomaanvalle sedert die brose skietstilstand in Januarie begin het. Die gebied se burgerlike verdedigingsagentskap berig Israel het vandag weer lugaanvalle op Gaza uitgevoer waarin 13 mense dood is. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het gesê gister se aanvalle was net die begin. Die Verenigde Nasies en talle lande veroordeel die hoë burgerlike dodetal in die nuwe aanvalle, wat glo reeds op meer as 400 staan.
# Krieket: Kaptein Hardik Pandya sal nie beskikbaar wees om Mumbai Indians Sondag aan te voer in hul Indiese Premierliga-openingswedstryd teen Chennai Super Kings nie. Hy dien ‘n skorsing van een wedstryd uit vir ‘n derde agtereenvolgende stadige boulbeurt-koers in verlede jaar se kompetisie. Pandya sê die situasie was buite sy beheer nadat hulle die laaste boulbeurt een en ‘n half of twee-minute laat afgestuur het, en nie toe besef het wat die gevolge gaan wees nie. Suryakumar Yadav sal Mumbai teen Chennai lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-232-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-34-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….