Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 19 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n SpaceX-kapsule met die NASA-ruimtevaarders, Butch Wilmore en Suni Williams, en nog twee ruimtevaarders het veilig aan die kus van Tallahassee, Florida, in die see neergeplons. Hulle was nege maande in die ruimte. Die twee ruimtevaarders sou aanvanklik net agt dae by die Internasionale Ruimtestasie vertoef, maar is in Junie verlede jaar daar gestrand nadat hulle Boeing Starliner-ruimtetuig ʼn probleem ontwikkel het. Die bestuurder van NASA se Kommersiële Bemanningsprogram Steve Stich, sê hulle is bly Wilmore en Williams is tuis:
# Aandele in die Chinese elektriese voertuigreus BYD het tot rekordhoogtes gestyg na die bekendmaking van batterytegnologie wat hulle sê ‘n voertuig kan laai in dieselfde tyd wat dit neem om ‘n voertuig met brandstof vol te maak. Die maatskappy sê die battery en laaistelsel, wat as “Super e-Platform” bekend staan, maak aanspraak op topspoed van eenduisend kiloWatt, wat motors toelaat om tot 470 kilometer te ry nadat dit vir slegs vyf minute gelaai is. Die nuwe tegnologie mik om gebruikers se angstigheid te beëindig oor hoe lank dit vat om motors te herlaai.
# Die Nasionale Dramaturgkompetisie het vier finaliste aangewys wat moontlik hul werk op die planke sal sien op vanjaar se Nasionale Kunstefees. Thozama Busakwe, Lwando Sindaphi, Naledi Malotana en Campbell Meas ontvang vyf-duisend-rand elk en mentorskap om hul draaiboeke te verfyn. Die kompetisie, ter ondersteuning van opkomende dramaturge, laat draaiboeke in alle tale toe. Die uiteindelike wenner sal wegstap met 20-duisend-rand en die opvoer van hul toneelstuk.
# Kaapstad se brandbestryders gaan weer aan die Twee Oseane-halfmarathon deelneem om broodnodige fondse vir die Vrywillige Veldbranddienste in te samel. Die brandbestryders word gelei deur Jermaine Carelse en Renaldo Duncan en die voormalige Springbok-haker, James Dalton, sluit by hulle aan vir die wedloop oor 21,1-kilometer. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die Vrywillige Veldbranddienste beskerm Kaapstad teen vernietigende veldbrande:
# En ten slotte: Die Hollywood-akteur en Grammy-bekroonde musikant, Will Smith, gaan die eerste keer in dekades ‘n wêreldtoer onderneem. Sy toer, genaamd Based on a True Story Summer Tour, begin op 13 Julie in Hamburg, Duitsland en gaan ook aandoen in onder meer Londen en Monte Carlo voor die laaste optrede in Parys op 2 September. Die toer val saam met Smith se eerste vollengte rap-album in 20 jaar wat volgende week uitgereik word. Die stemme van Teyana Taylor, Jac Ross en DJ Jaxzzy Jeff kan op die album Based on a True Story gehoor word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….