Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Nuwe rekord is in 2024 vir wêreld-temperature bereik wat gemiddeld meer as 1,5 grade Celsius hoër is as voor-nywerheidsvlakke. Die Wêreldklimaatsorganisasie het dié inligting in sy wêreldklimaatsverslag verstrek. Die verslag het data uit 101 lande saamgestel en sê ook seetemperature het die agtste agtereenvolgende jaar tot ‘n rekordvlak gestyg. Die samesteller, John Kennedy, sê die hoofoorsaak is die voortdurende styging in kweekhuisgasvrystellings, met die El Niño-effek wat ‘n kleiner rol speel.
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het egter bevestig dat die doelwitte van die Paryse Ooreenkoms steeds binne bereik is, ondanks Wêreldklimaatsorganisasie se verslag. Guterres raai wêreldleiers aan om vinnig op te tree, en hernubare energie en nasionale klimaatspakkette in te stel om temperatuurstyging teen te werk. Hy beklemtoon die behoefte vir dringende optrede om ‘n volhoubare toekoms te verseker.
# En ten slotte: Die Buffalo City-munisipaliteit in die Oos-Kaap sê hy werk aan sommige probleme wat die meeste bydra tot rioolstorting in die streek. Een daarvan is die verouderde infrastruktuur wat die netwerk en die meganiese infrastruktuur in pompstasies en watersuiweringsaanlegte insluit. Die munisipaliteit se woordvoerder, Samkelo Ngwenya, sê hulle gee volgens die begroting voorkeur aan herkapitalisering en onderhoud aan watersuiwerings-infrastruktuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….