Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Royal Challengers Bengaluru se gewese kolwer, die Suid-Afrikaner AB de Villiers, glo die balans en die Indiese kolfmeester Virat Kohli in die top-orde gee die span ‘n kans om die Indiese Premierliga vanjaar die heel eerste keer te wen. Die span het oor die jare al die groot name gelok, maar kon nog nooit die trofee lig nie. De Villiers het RCB van 2011 tot ’21 verteenwoordig. Hy sê vanjaar se span, ook met spelers soos kaptein Rajat Patidar, Phil Salt en Liam Livingstone, is baie sterk.
# Sokker: Afrika se sterkste spanne sit hierdie week hulle poging voort om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Bafana Bafana speel Vrydag in Polokwane teen Lesotho, terwyl Rwanda en Nigerië in Kigali kragte meet. Kameroen kom vandag teen Eswatini te staan in Mbombela, Suid-Afrika. Môre speel Mosambiek teen Uganda in Kaïro, Egipte. In ander wedstryde speel Liberië teen Tunisië, en die Sentraal-Afrikaanse Republiek teen Madagaskar. Nege plekke in die toernooi is bespreek vir spanne uit Afrika, en daar is ook ‘n inter-konfederasie-uitspeelplek beskikbaar.
# Gholf: ‘n Sterk veld van 86 spelers het byeengekom vir die Vroue-ope wat vandag op die Blair Atholl-gholf- en perdrylandgoed in Gauteng afslaan. Die algehele prysgeld is ‘n miljoen-rand. Onder die spelers is die Suid-Afrikaners Danielle du Toit, Casandra Alexander en Kaiyuree Moodley, Hayley Davis van Engeland en Lucie Malchirand van Frankryk. Die Skot, Lorna McClymont, wat aan haar derde toernooi deelneem sedert sy vroeër vanjaar ‘n beroepspeler geword het, sê haar broer het haar oortuig om gholf te speel:
# Rugby: Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, het vrede gemaak met Nieu-Seeland Rugby se streng beleid oor verkiesbaarheid nadat hy aanvanklik daarop aangedring het om spelers te kies wat oorsee speel. Net spelers wat vir plaaslike spanne speel, mag vir die nasionale span oorweeg word om plaaslike kompetisies te versterk, hoewel ervare All Blacks toegelaat word om kort tye oorsee te speel tydens sabbatsverlof. Robertson sê die beleid is buigsaam genoeg, en hy moet seker maak hulle kan voortgaan om gehalte-beroepspelers te voorsien.
# En tennis: Die Beroepstennisspelersvereniging, PTPA, waarvan Novak Djokovic ‘n medestigter is, dagvaar die sport se beheerliggame oor teen-mededingende praktyke en ‘n gebrek aan spelerwelstand. Die hofdokumente van 163 bladsye sê spelers is vasgevang in ‘n spel wat hulle beperkte beheer gee oor hulle loopbane en handelsmerke. Die vereniging kritiseer ook die skedulering van wedstryde, die ranglys, en beheer oor beeldmateriaal en foto’s. Die ATP sê die spelersvereniging se saak is sonder meriete en hy gaan dit met alle mag verdedig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….