Nuus 12:00
BULLETIN 19 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motlanthe vra Suid-Afrika moet sy verhouding met Amerika herstel
# Die SAL sê sy vlieëniers se sloerstaking is betreurenswaardig
# En Nederland se koning beklemtoon menseregte tydens sy besoek aan Kenia
# Oudpresident Kgalema Motlanthe het Suid-Afrika aangemoedig om sy gespanne verhouding met Amerika te herstel en bande met die Europese Unie te versterk. Hy het ‘n eredoktorsgraad in Filosofie van die Universiteit van Johannesburg ontvang ter erkenning van sy leierskap in die bestendiging van die regering tydens sy presidentskap in 2008 tot 2009, en sy deurlopende bydraes tot die land. Motlanthe het die belangrikheid beklemtoon van respek vir internasionale verhoudings:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy betreur die besluit van die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging en die Nasionale Vervoerbeweging se Vlieëniersforum om met ‘n sloerstaking te begin. Die optrede gaan oor salarisverhogings. Die lugredery bied ‘n aanvanklike verhoging van 7,3-persent vanjaar, gevolg deur 7,6-persent volgende jaar en in 2027. Die vakbond eis egter 15,7-persent. SAL sê die aanbod is billik en vrygewig, veral gegewe sy finansiële uitdagings. Hy voeg by gebeurlikheidsmaatreëls is ingestel om die uitwerking van die arbeidsoptrede tot die minimum te beperk.
# Die Stad Tshwane sê die 30-miljard-rand wat verskeie munisipale kliënte soos staatsdepartemente en groot sakeondernemings hom skuld, belemmer doeltreffende dienslewering. Die metro gaan voort met sy skuldinvorderingsprogram. Woordvoerder Lindela Mashigo sê inwoners wat hul uitstaande eiendomsbelasting van die afgelope 12 maande betaal, kwalifiseer vir die afskrywing van 70-persent van enige munisipale skuld ouer as ʼn jaar:
# Koning Willem-Alexander van Nederland het menseregte bespreek gedurende sy staatsbesoek aan Kenia te midde van ‘n toenemende aantal bewerings van mensemishandeling. Die besoek vind plaas al het meer as 20-duisend Keniane ‘n versoekskrif onderteken dat dit afgestel moet word te midde van inhegtenisnemings van kritici en staatsverwante ontvoerings. Die koning het in Nairobi die belangrikheid van vrye uitdrukking en staatsbestuur beklemtoon. Die koning, wat vereer is met ‘n kanonsaluut van 21 skote, het beklemtoon dat Kenia en Nederland moet praat oor staatsbestuur en aanspreeklikheid.
# Sokker: Afrika se sterkste spanne sit hierdie week hulle poging voort om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Bafana Bafana speel Vrydag in Polokwane teen Lesotho, terwyl Rwanda en Nigerië in Kigali kragte meet. Kameroen kom vandag teen Eswatini te staan in Mbombela, Suid-Afrika. Môre speel Mosambiek teen Uganda in Kaïro, Egipte. In ander wedstryde speel Liberië teen Tunisië, en die Sentraal-Afrikaanse Republiek teen Madagaskar. Nege plekke in die toernooi is bespreek vir spanne uit Afrika, en daar is ook ‘n inter-konfederasie-uitspeelplek beskikbaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-345-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-33-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….