Nuus 08:00
BULLETIN 19 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die VSA wil beleidsverandering in Suid-Afrika deur diplomasie bewerkstellig
# Die Agri-sakeaanwyser is op sy hoogste vlak sedert 2021
# En gholf: Meer as 80 spelers is gereed vir die stryd in die Platinum Vroue-Ope
# Die Vryheidsfront Plus sê Amerika het sy probleme met Suid-Afrika uitgespel, en die Amerikaanse regering wil beleidsverandering in die land deur diplomasie bewerkstellig. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se woordvoerder, Tammy Bruce, sê Suid-Afrika se posisie teenoor Amerika en sy bondgenote is toenemend aggressief. Dit sluit in dat hy Israel by die Internasionale Geregshof verkla en nie Hamas nie. Die VF Plus-leier, Corné Mulder, sê Amerika se optrede teen die land gaan oor meer as ‘n enkele voorval:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie sê die regering se besluit om ʼn bykomende 37-miljoen-rand beskikbaar te stel vir sy saak teen Israel by die Internasionale Geregshof, is ʼn vermorsing van staatsfondse. Dit bring die totale besteding aan die saak op 132-miljoen-rand te staan. Die federasie se woordvoerder, Rolene Marks, sê die regering gee voorkeur aan ʼn buitelandse regstryd bo dringende binnelandse kwessies soos werkloosheid, ʼn sukkelende gesondheidstelsel en voortslepende kragonderbrekings.
# Die Agri-sakevertroueaanwyser het met 11 punte vanaf die vierde kwartaal verlede jaar tot die eerste kwartaal van hierdie jaar gestyg. Dit is die derde agtereenvolgende verbetering en plaas die aanwyser op sy hoogste vlak sedert die vierde kwartaal van 2021. Die huidige vlak dui aan dat Suid-Afrikaanse agrisake optimisties bly oor sakeondernemings in die land. Hierdie optimisme is as gevolg van faktore insluitend die La Niña-reën wat die landbouseisoen versterk, verbeterings in die doeltreffendheid van hawens wat uitvoere steun, en vordering met die beheer van dieresiektes.
# President Vladimir Putin het ingestem om aanvalle op energie- en infrastruktuurteikens in Oekraïne tydelik te staak. Dit volg ná ‘n telefoongesprek tussen Putin en president Donald Trump. Putin wou egter nie ʼn breër skietstilstandooreenkoms onderteken om die oorlog te beëindig nie, al het Kiev reeds daartoe ingestem. Rusland sê in ʼn verklaring ʼn belangrike voorwaarde om verdere konflik te vermy, is sy eis dat buitelandse militêre hulp gestaak en intelligensie nie langer met Oekraïne gedeel word nie.
# Gholf: ʼn Sterk veld van 86 spelers het byeengekom vir die Platinum Dames Ope wat vandag by die Blair Atholl Gholf- en Perdelandgoed afslaan. Die totale prysgeld is een-miljoen-rand. Dit sluit in die Suid-Afrikaners Danielle du Toit, Casandra Alexander en Kaiyuree Moodley, Engeland se Hayley Davis, en Lucie Malchirand van Frankryk. Die Skot, Lorna McClymont, wat aan haar derde toernooi deelneem sedert sy vroeër vanjaar by die beroepspelers aangesluit het, sê haar broer het haar oortuig om gholf te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-799-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-34-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….