Nuus 06:00
BULLETIN 19 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika veroordeel die Israelse lugaanvalle in Gaza
# Paul Mashatile sê die regering ruim struikelblokke vir ekonomiese groei uit die weg
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie versoek die VSA om befondsingsbesnoeiings te heroorweeg
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het Israel se dodelike lugaanvalle op Gaza veroordeel, waarin meer as 350 Palestyne dood is. Die aanvalle, wat woongebiede en skuilings geteiken het, volg ten spyte van voortgesette onderhandelinge oor ‘n skietstilstand. Die Verenigde Nasies eis dat die geweld onmiddellik moet stop en die Internasionale Geregshof het Israel beveel om hulp in Gaza toe te laat. Die regering het ook die Israelse lugaanvalle op Sirië gekritiseer en noem dit ‘n skending van soewereiniteit.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika wend pogings aan om beleggersvertroue te behou deur strukturele struikelblokke vir ekonomiese groei uit die weg te ruim. Hy het gister by die VN-universiteit in Tokio, Japan, gepraat. Mashatile sê die regering stel uitgebreide strukturele, beleids- en regulatoriese hervormings in om ekonomiese prestasie te verbeter. Hy sê dit sluit in die bestuur van die nasionale waterinfrastruktuur, die omkeer van die logistieke krisis, die herstrukturering van staatsondernemings en die versterking van die staat se optrede teen korrupsie en georganiseerde misdaad:
# Die veroordeelde reeksverkragter en moordenaar, Thabo Bester sê die Vrystaatse Hooggeregshof-uitspraak teen hom in Februarie het ‘n gevaarlike presedent geskep wat tot chaos in die reg kan lei. Hy het die Konstitusionele Hof genader vir verlof tot appèl teen die uitspraak, wat sy aansoek oor die beweerde swak omstandighede van sy gevangenisstraf afgewys het. Bester se regspan sê dit sal ‘n bespotting van geregtigheid wees as ‘n uitspraak oor die voorwaardes van sy tronkstraf nie betwis word nie.
# Die DA sê Gauteng se begroting is onder druk weens e-tol-skuld en agterstallige fakture. Die DA-lid, Ruhan Robinson, het die LUR, Lebogang Maile, gekritiseer omdat die party uitgesluit is van die begrotingsraadplegings. Robinson beweer ondanks ‘n begroting van 171-miljard-rand is daar ‘n tekort van 7,3-miljard-rand in die Gesondheidsdepartement en baie diensverskaffers bly onbetaald. Hy sê die DA sal die begroting onder die loep neem en eis hervormings en deursigtigheid voor hy sy steun bied:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Amerika gevra om sy befondsings-besnoeiing van wêreldgesondheidsprogramme te heroorweeg. Die WGO se hoof, Tedros Adhanom Ghebreyesus, waarsku die besluit ontwrig reeds die belangrike gesondheidsdienste, veral wat malaria-, MIV-, tuberkulose- en maselsprogramme betref. Hy sê dit kan jare se vooruitgang ongedaan maak en miljoene mense benadeel. Ghebreyesus vra die VSA moet saamwerk met lande wat geraak word om oplossings te kry, en ander lande ook gevra om hulle steun vir wêreldgesondheid te verhoog.
# Krieket: Royal Challengers Bengaluru se gewese kolwer, die Suid-Afrikaner AB de Villiers, glo die span se balans en die Indiese kolfmeester Virat Kohli se teenwoordigheid in die top-orde gee die span ‘n kans om die Indiese Premierliga vanjaar die heel eerste keer te wen. Die span het oor die jare al die groot name gelok, maar kon nog nooit die trofee lig nie. De Villiers het RCB van 2011 tot ’21 verteenwoordig. Hy sê vanjaar se span, ook met spelers soos kaptein Rajat Patidar, Phil Salt en Liam Livingstone, is baie sterk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-623-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-32-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….