Nuus 17:00
BULLETIN 18 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KleuterZone word voorlopig gelikwideer ná bewerings oor finansiële nood
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Willemse is terug by die Stormers na beserings
# En die laaste vlieënier in die Slag van Brittanje sterf op 105
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die vroeë kinderontwikkelingsgroep KleuterZone onder voorlopige likwidasie geplaas. Dit is gestig deur die sanger Anthonie Bougas. Dit volg nadat ‘n belegger beweer het die onderneming sukkel finansieel. News24 berig die onderneming, wat 80 skole landwyd bedryf, het beleggers ‘n geleentheid gebied om aandele te koop. Verskeie KleuterZone-handelsmerkskole het hulself gedistansieer en beweer hulle funksioneer onafhanklik. Die maatskappy moet op 14 Mei weer in die hof verskyn om finale likwidasie te probeer vermy.
# RISE Mzansi dring aan op ‘n ondersoek na die meer as drie-duisend-400 lisensies wat toegestaan is aan ambags- en kleinskaalse mynwerkers gedurende die laaste vyf jaar. Die party is besorg oor die toename in onwettige mynbou wat aanhou om lewens te eis en die regering van inkomste beroof. ‘n Gesamentlike parlementêre komitee bespreek vandag onwettige mynbou-bedrywighede. Makashule Gana van RISE Mzansi stel ‘n elektroniese lisensie-opsporingstelsel voor om lisensiëring te bespoedig en wettige mynboubelegging aan te moedig:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ontken bewerings van ‘n krisis met wangedrag op die Suid-Afrikaanse navorsingsbasis SANAE Vier op Antarktika. Dit volg ná berigte oor ‘n beweerde aanranding tussen twee spanlede, maar die departement het bevestig niemand is teruggestuur Kaapstad toe nie en alle evaluerings toon daar is geen groot rede tot kommer nie. Minister Dion George verduidelik ook die bewerings van seksuele aanranding is vals, maar ‘n ondersoek na teistering duur voort:
# Rugby: ‘n Groep van 30 Stormers vertrek vandag uit Kaapstad vir ‘n toer van twee Verenigde Rubykampioenskaps-wedstryde. Hulle speel Saterdag in Wallis teen Scarlets en volgende Vrydag in Noord-Ierland teen Ulster. Die slot Connor Evans en die agterspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu, Suleiman Hartzenberg en Damian Willemse is almal terug in die span na beserings. Die buitesenter Luke Burger is die enigste nuweling in die groep. Ben-Jason Dixon en Stefan Ungerer is uit weens beserings en die stut Neethling Fouché het vaderskapsverlof vir die geboorte van sy tweede kind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-298-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-34-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-32-sent per vat.
# En laastens, die laaste oorlewende vlieënier van die Slag van Brittanje, John Hemingway, is op 105 oorlede. Hy het as tiener by die Koninklike Lugmag aangesluit en was tydens die Tweede Wêreldoorlog lid van ‘n vlieënier-eskader wat in Mei 1940 binne 11-dae 90 vyandelike vliegtuie afgeskiet het. Die vlieëniers het bekend geword as “The Few” na ‘n toespraak deur die Britse premier, Winston Churchill. Die Lugmag sê sy dood is ‘n hartroerende herinnering aan die opofferings wat gemaak is deur dié wat tydens die oorlog vir vryheid geveg het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….