Nuus 16:00
BULLETIN 18 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering weerlê bewerings van wangedrag op die navorsingsbasis op Antarktika
# Die DA vra dat die Tesourie moet ingryp in City Power se skandaal
# En Hamas sê Israel het verskeie van sy leiers gedood in ‘n vlaag aanvalle op Gaza
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ontken bewerings van ‘n krisis met wangedrag op die Suid-Afrikaanse navorsingsbasis SANAE Vier op Antarktika. Dit volg ná berigte oor ‘n beweerde aanranding tussen twee spanlede, maar die departement het bevestig niemand is teruggestuur Kaapstad toe nie en alle evaluerings toon daar is geen groot rede tot kommer nie. Minister Dion George verduidelik ook die bewerings van seksuele aanranding is vals, maar ‘n ondersoek na teistering duur voort:
# Die DA versoek dat die Nasionale Tesourie en die Ouditeur-Generaal bewerings van finansiële wanbestuur by Johannesburg se kragvoorsiener, City Power, ondersoek. News24 berig dat City Power bedrieglik 335-miljoen-rand in ses maande bestee het aan mislukte instandhoudings- en infrastruktuurprojekte deur bedrieglike fakture te betaal. Die DA se koukusleier in die stad, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê City Power ignoreer hulle versoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting:
# Die GOOD-party versoek president Cyril Ramaphosa om die Nasionale Dagga-meesterplan te versnel en die verbod op eetbare produkte te stop. Die party voer aan beleidsonsekerheid bedreig die lewensbestaan van byna een-miljoen mense, met tradisionele vervaardigers wat uitgesluit word en slegs ‘n paar gelisensieerde ondernemings wat daarby baat. Brett Herron van die party sê die verbod op eetbare dagga sal nie veiligheid verseker nie en hy moedig eerder regulering aan. Hy waarsku teenstrydige beleide belemmer groei in die bedryf:
# Hamas sê die hoof van sy regering in die Gaza-strook, Essam al-Dalis, is onder amptenare wat gesterf het in ‘n vlaag Israelse aanvalle op die Palestynse gebied. Hamas het in ‘n verklaring ook die dood aangekondig van die hoof van die ministerie van Binnelandse Sake, Mahmud Abu Watfa, die direkteur-generaal van die interne veiligheidsdiens, Bahjat Abu Sultan, en hul gesinne. Israel het beloof om gevegte voort te sit tot al sy gyselaars terugbesorg is. Dit is die ergste aanvalle sedert ‘n skietstilstand in Januarie begin het.
# Rugby: Die Cheetah-voorspeler Friedle Olivier gaan hom by ‘n Japanse klub aansluit waarvan die naam nog nie bekend gemaak is nie. Die 32-jarige het in 2022 vanaf ‘n Russiese klub na die Cheetahs verskuif en het sedertdien 41 wedstryde vir die Vrystaters gespeel. Olivier het laas in Januarie teen Lyon in die Uitdaagbekerkompetisie gespeel, want hy het ‘n kuitbesering opgedoen. Die Cheetahs is onoorwonne in die Suid-Afrikaaanse Beker en kom Vrydag in Mbombela teen die Pumas te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-74-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….