Nuus 11:00
BULLETIN 18 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting sê menseregte gaan steeds agteruit in Suid-Afrika
# Die ANC beskuldig die MK-party dat hy op die rug van sy ontbinde militêre vleuel ry
# En Israelse lugaanvalle eis ten minste 200 slagoffers in Gaza
# Die FW de Klerk-stigting sê Suid-Afrika se geldelike probleme het ‘n ernstige uitwerking op landsburgers se regte en vryhede. Die stigting het sy 2024-jaarverslag vrygestel wat aantoon tot watter mate regte en vryhede geniet word soos in die Handves van Regte vervat. Die stigting se ondervoorsitter, Christina Teichmann, sê hulle het bevind elf menseregte, insluitend vryheid van uitdrukking, het verswak, tien het dieselfde gebly en vier het verbeter:
# Die ANC sê die MK-party het geen rol in die land se vryheidstryd gespeel nie, maar misbruik nou die ontbinde militêre vleuel se gewildheid om kiesers te mislei. Die ANC het dié betoog in die Appèlhof aangevoer. Die party appelleer teen ʼn beslissing van die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof wat die MK-party toestemming gee om die naam en embleem te gebruik. Die ANC sê die MK-party skend sy regte ingevolge die Wet op Handelsmerke.
# Die GOOD-party in George vra dat die bevindings oor die onvoltooide gebou wat in Mei verlede jaar ingetuimel het, vinnig bekendgemaak word. Vier-en-dertig mense is dood en talle beseer toe die meeste werkers onder puin begrawe is. Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het onthul die voorlopige verslag dui daarop dat talle prosedures nie gevolg is nie. GOOD se woordvoerder, Chantelle Kyd, sê die plaaslike gemeenskap wag angstig op die uitslag van alle ondersoeke:
# Israel het ‘n vlaag dodelike lugaanvalle op Gaza van stapel gestuur wat minstens 200 slagoffers geëis het. Dit is sy grootste aanval sedert die skietstaking in Januarie ingestel is. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het die opdrag gegee weens ‘n gebrek aan vordering met die onderhandelings. Hamas waarsku die aanvalle is ‘n doodsvonnis vir die oorblywende gyselaars. Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, sê hulle sal geen genade toon vir hulle vyande, insluitend Hamas, nie:
# Tennis: Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwie, en 2022 se wenner, Carlos Alcaraz van Spanje, spook dalk sake uit in die halfeindronde van die Miami Ope. Djokovic begin sy veldtog teen sy landgenoot Hamad Medjedovic of die Australiër Rinky Hijikata. Alcaraz takel David Goffin van België of Aleksandar Vukic van Australië. Die pasgekroonde kampioen van Indian Wells, Jack Draper van Brittanje, wat die geleentheid het om die gesogte Sonskyn-dubbel te voltooi, is in dieselfde deel van die loting as die Duitser Alexander Zverev.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-970-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-18-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….