Nuus 09:00
BULLETIN 18 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beskuldig die MK-party dat hy op die rug ry van sy ontbinde militêre vleuel
# Rwanda verbreek diplomatieke bande en gee België 48 uur om Kigali te verlaat
# En boks: Die Olimpiese Komitee sluit die sport in by die 2028 Los Angeles Olimpiese Spele
# Die ANC sê die MK-party het geen rol in die land se vryheidstryd gespeel nie, maar hy misbruik nou die ontbinde militêre vleuel se gewildheid om kiesers te mislei. Die ANC het dié argument in die Appèlhof aangevoer. Die party appelleer teen ‘n beslissing van die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof wat die MK-party toestemming gee om die naam en embleem te gebruik. Die ANC sê die MK-party skend sy regte onder die Wet op Handelsmerke.
# Die Vereniging vir Staatsdiensamptenare sê hy erken die reusevordering met die uitfasering van puttoilette. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het verlede week gesê die Sanitation Appropriate for Education-inisiatief het daarin geslaag om meer as 93-persent van geïdentifiseerde puttoilette in openbare skole oral in die land te verwyder. Claude Naiker van die vereniging sê hy is bekommerd dat die departement die spertyd van 31 Maart gaan misloop om onveilige sanitasiegeriewe in skole te verwyder:
# Die GOOD-party in Johannesburg is besorg oor 335-miljoen-rand glo verkwis is op buitensporige pryse vir skoonmaaktoerusting en mislukte onderhouds- en infrastruktuurprojekte by City Power. ‘n Interne City Power memorandum het onthul dat die instelling se uitvoerende hoof, Tshifularo Mashava, geweet het van die bedrog met sy onderhoudsbegroting. Die beweerde bedrog het tussen Mei en Oktober 2023 plaasgevind. Matthew Cook sê City Power moet ‘n ondersoek van stapel stuur en terselfdertyd ‘n streng oorsigproses van die voorsieningsketting doen:
# Rwanda het sy diplomatieke bande met België beëindig en beskuldig die land dat hy Kigali ondermyn in die voortslepende konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo. België het die oproepe vir Europese sanksies teen Rwanda gelei, oor sy beweerde steun aan die M23-rebellegroep. Kigali ontken betrokkenheid en het Belgiese diplomate 48 uur gegee om die stad te verlaat. België noem die besluit onredelik en sal in reaksie daarop Rwandese diplomate verban. Die VN moedig Rwanda aan om sy soldate te onttrek.
# Boks: Die sport gaan teenwoordig wees op 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles nadat ‘n nuwe beheerliggaam gekies is. Die uittredende hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, sê die IOK se uitvoerende raad het dit goedgekeur nadat hulle Wêreldboks erkenning gegee het om toesig te hou oor die sport op die Spele. Dit beëindig jare van verdeeldheid oor die manier waarop die sport beheer is. ‘n Volle sitting van die IOK se sowat 100 lede moet die besluit nog later die week bekragtig, maar dit gaan na verwagting net ‘n formaliteit wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-145-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-13-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….