Nuus 08:00
BULLETIN 18 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê daar is vordering met die opknapping van die Lugverkeer-navigasiediens
# ’n Wes-Kaapse voorspraakgroep is ook op pad na Trump
# En rugby: Die Shimlas, Maties, Tuks en UJ is op die wenpad in die vyfde ronde van die Varsitybeker
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê hulle werk daaraan om die Lugverkeer-navigasiediens te stabiliseer. Sy het in Desember ‘n span aangestel om ernstige probleme by die staatsinstelling te ondersoek. Die span se voorlopige verslag in Januarie het vier probleemgebiede aangedui: ernstige personeeltekorte, kommunikasietoerusting, vlugprosedures en stelselmatige swakhede in veiligheidbestuurstelsels. Creecy erken daar was vertragings om vlugprosedures vir goedkeuring by die Lugvaartowerheid in te dien:
# Die Cape Independence Advocacy Group sê hy is voornemens om ʼn afvaardiging na Amerika te stuur om amptenare en ander mense met politieke bande te ontmoet. Die groep het aan president Cyril Ramaphosa, die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, geskryf en amptelik oor hul planne ingelig. ʼn Woordvoerder van die drukgroep, Joan Swart, sê hulle aktiwiteite sal deur die Grondwet beskerm word en die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika versterk eerder as benadeel:
# Die DA in Tshwane gaan vandag ʼn amptelike klag by die Openbare Beskermer indien oor kommer oor Triotic Protection Services se sertifikate en sy twyfelagtige saketransaksies met die Stad Tshwane. Die sekerheidsmaatskappy het volgens berigte bande met die ANC-onderburgemeester, Bonzo Modise. Die DA sê die klag sal beklemtoon dat Triotic Protection Services nie die nodige bevoegdheid het om die werk te doen nie, en bevraagteken of die maatskappy in die lig van sy noue bande met Modise met die metro mag sake doen.
# ʼn Amerikaanse federale regter eis ʼn verduideliking van president Donald Trump se administrasie omdat hy na bewering ʼn bevel oor die deportasie van vermeende Venezolaanse bendelede geïgnoreer het. Die administrasie het die Wet op Buitelandse Vyande gebruik om Saterdag meer as 238 meestal Venezolaanse vermeende bendelede na ʼn tronk in El Salvador te stuur. Dit ten spyte van regter James Boasberg se bevel dat die vliegtuie omdraai. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê hulle het nie Boasberg se opdrag oortree nie:
# Rugby: Die verdedigende kampioene, die Vrystaatse Shimlas, is op die wenpad na hul spannende 16-9-sege oor die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in die Varsitybeker se vyfde ronde. Die voorlopers, die Universiteit Stellenbosch se Maties, is steeds onoorwonne nadat hulle die Ikeys van Kaapstad met 31-24 verslaan het. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het die Noordwes-universiteit se Arende met 26-17 verslaan in die stryd om die uitspeelronde te haal. Die Universiteit van Johannesburg het die Wits-universiteit met 32-24 verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-954-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-11-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….