Nuus 11:00
BULLETIN 17 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is vol vertroue oor die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Amerika
# ActionSA dien weer ‘n wetsontwerp in oor ministeriële besteding
# En die Trump-administrasie verdedig die deportasie van meer as 200 burgers van Venezuela
# President Cyril Ramaphosa glo die geskiedkundige verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika sal die huidige probleme oorkom. Dit volg nadat Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, Vrydag uit die land gesit is weens sy opmerkings oor president Donald Trump se administrasie. Die minister van Buitelande Sake, Marco Rubio, het Rasool beskuldig dat hy ‘n rasgedrewe politikus is en hom persona non grata verklaar. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan New24 gesê die regering is bereid om opbouende besprekings met die Trump-administrasie te voer oor sake waaroor hulle ooreenstem.
# ActionSA sê hy het weer die Wetsontwerp op die Besnoeiing van Kabinetsvoordele ingedien, wat die eerste stap is van sy hervormingspakket vir die kabinet. Leon Schreiber van die DA het dit oorspronklik in 2023 ingedien, maar dit het verval en is nie weer ingestel nadat die party deel geword het van die regering van nasionale eenheid nie. Alan Beesley van ActionSA sê die wetsontwerp sal onbeheerste en verkwistende uitgawes beperk en die president se eensydige beheer oor die ministeriële handboek bekamp:
# Die polisie in Gauteng soek na 30 verdagtes wat gister verskeie kitsbanke opgeblaas het in die Jubilee-winkelsentrum in Hammanskraal, Tshwane. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê vyf OTM’s is opgeblaas en die aanvallers het ook by ʼn winkel ingebreek om die kluis met plofstof oop te skiet. Hy sê sodra hulle vasgetrek is, sal hulle onder meer aangekla word van poging tot moord en gewapende roof. Hy sê die polisie sal ook vasstel of die verdagtes met ander misdade in die streek verbind kan word:
# Die Trump-administrasie het sy besluit verdedig om die Wet op Buitelandse Vyande van 1798 te gebruik om 238 bendelede, meestal van Venezuela, na ʼn tronk in El Salvador te deporteer. Dit volg nadat ʼn federale regter besluit het om die administrasie se gebruik van die wet om deportasies te regverdig, tydelik op te hef. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê hulle het nie die bevel verontagsaam nie, want dis uitgereik nadat die migrante Amerika verlaat het. Sy sê die bevel het geen regsgronde nie.
# Gholf: 2019 se kampioen, Rory McIlroy, kom vandag in Florida teen die Amerikaner, JJ Spaun te staan in ‘n uitspeelstryd oor drie-putjies om die wenner van die Spelerskampioenskap te bepaal. ʼn Vertraging van vier ure weens gure weer het gister gekeer dat die PGA Toer se beroemde toernooi afgehandel word. Die Noord-Ierse speler het ‘n vier onder 68 behaal om saam met Spaun op 12 onder klaar te maak. Die Amerikaners Tom Hoge, Akshay Bhatia en Lucas Glover was saam derde. McIlroy sê hy het sy kanse verspeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-398-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-989-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….