Nuus 11:00
BULLETIN 16 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party noem die uitgesette ambassadeur Rasool se toespraak ‘n buitengewone diplomatieke oordeelsfout
# Tennis: Draper skok die tweemalige verdedigende kampioen Alcaraz en dring deur na die Indian Wells-eindstryd
# En minister McKenzie stuur die tweehonderdjarige viering van die Iziko Suid-Afrikaanse Museum van stapel
# Die GOOD-party sê die uitgesette ambassadeur in Amerika Ebrahim Rasool se toespraak voor die Mapungubwe-instituut wat gelei het tot sy afdanking is ‘n buitengewone diplomatieke oordeelsmisstap. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake Marco Rubio het op sosiale media verklaar Rasool is nie langer welkom nie en is ‘n persona non grata. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê terwyl dit moeilik is om nie krities te wees oor Amerika se boeliegedrag nie, word diplomate goed betaal om verhoudings te bou en nie af te breek nie:
Intussen sê die Save South Africa-burgerlike beweging sê die Suid-Afrikaanse regering moet nie die uitsetting van Ebrahim Rasool as Amerikaanse ambassadeur ligtelik opneem nie, en dit behoort mense wakker te skud. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake Marco Rubio het Rasool tot persona non grata verklaar na sy uitsprake tydens ‘n paneelbespreking waarin hy die Amerikaanse regering uitgebeeld het as heerssugtig en rassisties. Die woordvoerder van die beweging Tebogo Mashilompane sê die Rasool-kwessie dui op ‘n gebroke verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur Tertuis Simmers sê hy het die nasionale Departement van Menslike Nedersettings gevra om redes te gee vir die besnoeiing van 300-miljoen-rand van die toelaebegroting van 1,9-miljard-rand van Menslike Nedersetting se toewysing vir die 2024/2025-boekjaar. Simmers sê sy departement glo hulle het al die bewyse gegee wat nodig is om te toon dat hulle op koers is om hulle volle menslike nedersettingsbegrotingstoekenning te bestee:
# Tennis: Jack Draper van Brittanje het Carlos Alcaraz se droom verpletter om die Indian Wells Meesters vir ‘n derde agtereenvolgende keer te wen deur gister die tweemalige verdedigende kampioen met 6-1, 0-6, 6-4 te klop en deur te dring na die eindstryd. Die wêreld se nommer 14 Draper pak vandag Holger Rune in die eindstryd nadat die Deense speler die wêreld se nommer ses Daniil Medvedev met 7-5, 6-4 uitgeskakel het. Alcaraz wou aansluit by Roger Federer en Novak Djokovic as die enigste mans wat drie agtereenvolgende Indian Wellstitels kon inpalm.
# En die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het amptelik die tweehonderdjarige viering van die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad van stapel gestuur, wat 200 jaar se erfenisbeskerming en transformasie vier. Die minister het die museum se evolusie uitgelig van sy koloniale oorsprong in 1825 tot ‘n getransformeerde instelling wat Suid-Afrika se ryk en uiteenlopende erfenis uitbeeld. McKenzie sê die Iziko Suid-Afrikaanse Museum, wat eens ‘n simbool was van koloniale oorheersing, het ‘n diepgaande verskuiwing ondergaan na inklusiwiteit en die verteenwoordiging van alle Suid-Afrikaners.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….